Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

Capricorn staak steun aan skolenetbal

No BYLINE

Die Capricorn-groep het aangekondig dat die Capricorn-skolenetballiga nie in die komende seisoen sal voortgaan nie, met verwysing na bekommernisse oor mededingende regverdigheid en inklusiwiteit.

Die liga, van stapel gestuur om ’n hoëvlak- mededingende platform vir Namibië se topskole te skep, het mettertyd onbedoelde ongelykhede teweeggebring. Volgens die groep het die huidige struktuur skole bevoordeel wat die reiskoste en verwante uitgawes kon bekostig, soms ten koste van meer mededingende spanne wat uitgesluit is weens finansiële beperkings.

Capricorn sê hierdie situasie ondermyn die oorspronklike doel van die liga om gelyke nasionale mededinging te bevorder.

“Die Capricorn-groep glo dat die gees van mededinging nie deur ekonomie beperk moet word nie,” het Marlize Horn, hoof van handelsmerk- en korporatiewe sake, in ’n mediaverklaring gesê.

“Dit is noodsaaklik om ons benadering te herevalueer om te verseker dat elke skool ’n gelyke geleentheid het om aan nasionale kompetisies deel te neem. Ná deeglike oorweging het ons daarom besluit om die Capricorn-skolenetballiga op te skort.”

As deel van die oorgang na ’n meer inklusiewe model, het die Namibiese Skolesportunie (NSSU) in Januarie ’n twee daagse slypskool aangebied, geborg deur Capricorn-groep.

Die slypskool het verteenwoordigers van streke byeengebring en is deur die nasionale netbalafrigter, Julene Meyer, gefasiliteer met die doel om ’n meer toeganklike en regverdige raamwerk vir kompetisies te ontwikkel. Verteenwoordigers van Netbal Namibië het dit ook bygewoon.

Capricorn borg die nasionale liga sedert 2019 en sê hulle bly verbind tot die ontwikkeling van vrouesport in Namibië.

“As ’n groep is ons baie trots op ons bydrae tot die bevordering en ontwikkeling van vrouesport, veral netbal, oor baie jare,” het Horn gesê.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer