Republikein Profiel
Namibië se Afrikaanse dagblad, Republikein, verskyn van Maandag tot Vrydag en bied lesers ‘n keur van plaaslike nuus oor alle onderwerpe.
Die koerant het n sterk teenwoordigheid in die sosiale media en het sedert 2019 sy eie geselsprogram, “Kletskompas”, wat weeksdae regstreeks om 11:00 op Facebook gebeeldsend word en nou ook op Netwerk TV se kanale op DStv (285) en GoTV (94) in Namibië gesien kan word om 12:30 en weer om 20:00.
Die program “Koopkompas” bied op Saterdae aan sakeondernemings die geleentheid om hul ware en dienste te bemark.
Die gedrukte weergawe bevat ‘n daaglikse, Engelse invoegsel oor die ekonomie, sake en finansies onder die vaandel Market Watch, met periodieke motor- en eiendomsnuus asook daaglikse kleinadvertensies.
Ander gereelde insetsels sluit in Sport Wrap (Maandae), The Zone (jeug- en skolenuus op Dinsdae), skolekoerante, Careers (Vrydae), Business 7 (elke tweede Woensdag), Kollig (kuns en vermaak), Noorderlig, Suiderland en al die mediagroep se fokusuitgawes.
Die koerant se landboubladsye (Agri-Monitor) verskyn op Vrydae, asook ‘n weeklikse fokusartikel.
Geskiedenis
Republikein se eerste uitgawe het op 1 Desember 1977 verskyn nadat mnr. Dirk Mudge en sy ondersteuners onder die vaandel van die Republikeinse Party van die Nasionale Party in die destydse Suidwes-Afrika weggebreek het.
Die doel was om saam met verteenwoordigers van al die land se inwoners onafhanklikheid van Suid-Afrika na te jaag.
Dr. Jan Spies was die stigtersredakteur van die koerant.
Republikein was aanvanklik die mondstuk van die Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA), maar ná onafhanklikwording in 1990 is bestuur en eienaarskap in 1992 aan die Demokratiese Media Trust oorhandig om ‘n vry en onafhanklike pers in Namibië te bevorder.
Dirk Mudge en Jan Spies
Onder die vaandel van Democratic Media Holdings (DMH), vandag Network Media Hub (NMH), is mediabelange aansienlik uitgebrei deur die aankoop van onder meer die John Meinert-drukkery, Allgemeine Zeitung en Windhoek Advertiser. DMH het in ‘n stadium ook aandele in die Windhoek Observer besit en die toenmalige Tempo was die groep se veeltalige naweekkoerant. Die Namibian Sun is die groep se Engelse dagblad.
Newsprint Namibia is in 1999 as drukkery gestig.
Media24 van Suid-Afrika het vanaf 2007 tot 2016 ‘n 50%-aandeel in die groep gehou. In 2012 het die Demokratiese Media Trust sy 50% aandeel verkoop aan Stimulus Investments, ‘n Namibiese beleggingsmaatskappy wat in 2016 ook Media24 se aandele opgeneem het.
Die koerant se titel was aanvanklik Die Republikein, en rondom die millenniumverandering het Republikein 2000 op die mashoof gepryk. Sedertdien is die koerant net Republikein.
Voormalige redakteurs van die koerant sluit in Des Erasmus, Chris Jacobie en Estelle de Bruyn.
Monica Kalondo (nou Geingos) van Stimilus Investments, Dirk Mudge en Chrisna Greeff