Swartgatnavorsing bevorder

Internasionale samewerking
studente en navorsers sal vroeg in hul loopbane praktiese blootstelling kry aan instrumentasie, dataverwerking en wetenskaplike waarneming,
Francouis Pretorius

Die vennootskap van die Afrika Millimeter-teleskoop (AMT) tussen die Universiteit van Namibië (Unam) en die Universiteit (Unisa) van Suid-Afrika versterk Namibië se rol in wêreldwye astrofisika deur swartgatnavorsing te bevorder, wetenskaplike opleiding uit te brei en navorsingskapasiteit op die vasteland te bou.

Unam se visekanselier, prof. Kenneth Matengu, en die Unisa se hoof en visekanselier, prof. Puleng LenkaBula, het amptelik ’n addendum tot hul bestaande Memorandum van Verstandhouding onderteken, wat die samewerking oor die AMT-projek bo-op Gamsberg versterk. 

Die AMT, millimetergolf-teleskoop van 14 meter, sal by die netwerk van die Event Horizon-teleskoop (EHT) aansluit, wat beroemdheid in 2019 verwerf het met die eerste foto van ’n swart gat (of swart kolk) in die ruimte opgelewer het. 

Marc Klein Wolt, AMT-projekdirekteur, het die wetenskaplike potensiaal benadruk: “Om die AMT by die netwerk te voeg, sal ons in staat stel om langer waarnemings gedurende die nag te doen, wat ons sal toelaat om films te skep van hoe swart gate lyk. . . 

“Dit sal ons help om beter te verstaan watter teorie die swart gat op die beste manier beskryf.” 

Wolt het verduidelik dat die teleskoop Namibië op ’n unieke wyse binne internasionale astrofisika sal posisioneer en sal bydra tot baanbrekersnavorsing oor swart gate en sterrestelsels in die vroeë heelal. 

Unam-woordvoerder Simon Amesho het gesê: “Die Afrika Millimeter-teleskoop is ’n transformerende platform wat Namibië stewig binne die wêreldwye ekosisteem van sterrekunde en ruimtewetenskap posisioneer.”  

Hy sê studente en navorsers sal vroeg in hul loopbane praktiese blootstelling kry aan instrumentasie, dataverwerking en wetenskaplike waarneming, wat verseker dat vaardigheidsoordrag prakties, volhoubaar en plaaslik veranker is. 

Amesho het bygevoeg dat die projek ook nagraadse navorsing in sterrekunde, astrofisika en ruimtewetenskap sal uitbrei, terwyl dit interdissiplinêre vaardighede in datawetenskap, ingenieurswese en hoëprestasie-rekenaarverwerking bevorder. 

Vir Unisa versterk dit samewerking op die vasteland en stel die vennootskap die universiteit in staat om sowel finansiële ondersteuning as tegniese kundigheid tydens ingebruikneming en bedrywighede te lewer. Die universiteit sal sy afstandsonderrigvermoë benut om studente oraloor Afrika op te lei. LenkaBula het die AMT beskryf as “Afrika se intellektuele ambisie. . . ’n belegging nie net in infrastruktuur nie, maar in mense en volhoubare wetenskaplike ekosisteme wat Afrika vir geslagte sal dien.” 

Die Gamsberg-terrein is gekies vir sy hoë ligging, droë lug en stabiele toestande – ideaal vir millimetergolf-radioastronomie. 

Wolt het beklemtoon dat aanvanklike bedrywighede by Van Golshuis naby die H.E.S.S.-sterrewag sal plaasvind, voordat die teleskoop na die berg verskuif word. 

“Dit is ’n Namibiese teleskoop. . . ons werk saam met ons Namibiese vennote om hierdie teleskoop werklik op die voorfront te plaas. Dit sal baie geleenthede vir Namibiese studente gee.” 

Benewens navorsing, is die AMT ook ’n gemeenskaps- en onderwysprojek. Die mobiele planetarium, geïntegreer met die AMT-inisiatief, het reeds meer as 35 000 Namibiese skoolkinders en studente betrek en die volgende geslag wetenskaplikes en ingenieurs geïnspireer. 

Met die AMT beoog Namibië en sy vennote om plaaslike wetenskaplike kapasiteit te transformeer, navorsing met hoë impak te bevorder en Afrika se rol in wêreldwye astrofisika te verstewig.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer