Arktiese ekspedisie vir Namibiese leerling
’n Namibiese leerling, Kadhikwa Amutenya, is aangewys as een van die wenners die internasionale opvoedkundige projek, Ysbreker van Kennis 2026, en sal ’n eenmalige ekspedisie na die Noordpool aanpak.
Die sewende seisoen van Ysbreker van Kennis – ’n internasionale opvoedkundige projek wat deur Rosatom ondersteun word – het by die Museum van Atoomenergie in Rusland se hoofstad, Moskou, afgesluit waar die wenners amptelik aangekondig is.
Kadwikwa sal in Augsutus aan boord van die kernkrag-ysbreker 50 Let Pobedy op ’n reis na die Noordpool vertrek, waar hy sal deelneem aan ’n uitgebreide opvoedkundige en wetenskaplike program, gelei deur Russiese en internasionale kundiges, met lesings, praktiese werkswinkels, wetenskaplike eksperimente en ander interaktiewe aktiwiteite.
Byna 5 000 talentvolle leerlinge tussen 14 en 16 jaar oud van 23 lande, insluitend Namibië, Suid-Afrika, Rwanda, Tanzanië en Egipte, het meegeding om by die unieke Arktiese ekspedisie aan te sluit.
Tien finaliste is in elke land gekies waar hulle kreatiewe projekte aangebied het oor die tema “Hoe kernkragtegnologieë die wêreld vandag verander”.
Die finaliste se projekte is deur ’n internasionale jurie geëvalueer wat bestaan uit verteenwoordigers van die kernkragbedryf, wetenskap, onderwys, Arktiese sake en wetenskapskommunikasie.
Terwyl die opvoedkundige en loopbaangerigte aspekte van die ekspedisie kern tot die projek staan, bied die reis ook die rou natuurskoon van die Arktiese gebied.
“Vanjaar se oorwinning van Kadhikwa Tironenn Amutenya is meer as net ’n reis na die Noordpool – dit is ’n kans om unieke ervaring en kennis op te doen wat hom in die toekoms goed sal dien,” lui ’n verklaring van Rosatom.
“Namibië neem al etlike jare deel aan die Ysbreker van Kennis-projek, wat die land se groeiende belangstelling in die kernkragsektor weerspieël, met samewerking tussen Namibië en Rosatom wat vorder, insluitend die voorbereiding van ’n raamwerkooreenkoms oor vreedsame atoomenergie.”
Hierdie samewerking behels tot die Wings-uraanprojek in die Omahekestreek, wat deur Headspring Investments (deel van die Rosatom-groep) geïmplementeer word.
Verlede jaar is Namibië deur Teaghan Beresford van Swakopmund verteenwoordig.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie