• Tuisblad
  • Weer
  • Wyle oorlogveteraan se gestremde dogter dakloos na storm

Wyle oorlogveteraan se gestremde dogter dakloos na storm

Aurelia Afrikaner
Die gestremde dogter van 'n voormalige oorlogsveteraan wie se huis erg deur swaar reën, oorstromings en sterk winde naby Mariental beskadig is, is nou dakloos gelaat en moet in 'n tent bly.

Theresia Fleermuys, wat vier jaar gelede oorlede is, het volgens haar oudste dogter, Natasha Brinkman van Okahandja, in die bevrydingstryd gedien, maar het nooit die N$200 000-uitbetaling ontvang wat aan goedgekeurde oorlogsveterane belowe is nie. Volgens haar familie het die ministerie van verdediging en veterane sake hulle in kennis gestel dat daar geen fondse beskikbaar was nie.

Vier gesinne by Fulkernhorst, sowat 24 kilometer wes van Mariental, is dakloos gelaat nadat hul huise Donderdag na die swaar reën oorstroom het en sterk winde deur die gebied gewaai het. Een van hulle is Brinkman se gestremde jonger suster (30).

Fleermuys se vierslaapkamerhuis, wat sy self gebou het, is heeltemal deur die storm vernietig, wat die meeste van die meubels en huishoudelike besittings onherstelbaar gelaat het. Haar gestremde dogter wat in die huis gewoon het, is sedertdien deur die Hardap-dorpsraad van tydelike skuiling in 'n tent voorsien. Die raad het ook dieselfde hulp verleen aan drie ander geraakte gesinne in die gebied wie se huise ernstige skade opgedoen het.

Die Swapo-distrikskoördineerder vir die Hardapstreek en inkomende kiesafdelingraadslid Van-Neel Jeremias het die toneel besoek om die skade te bepaal. Verslae dui daarop dat ten minste vier huise in dieselfde gebied deur die storm geraak is.

Wyle Fleermuys word deur bure onthou as 'n nederige vrou in haar gemeenskap. Haar bejaarde suster wat in Okahandja woon en Brinkman wat ook as haar gestremde suster se voog dien, sukkel om die nodige ondersteuning te bied weens finansiële beperkings.

Die familie doen 'n beroep op die publiek, veral barmhartige Samaritane en organisasies wat kan help om Fleermuys se huis te herbou of noodsaaklike items soos meubels en kos te verskaf.

Diegene wat bereid is om te help, kan die familie direk by 081 742 3176 kontak.

“Ons pleit vir enige hulp om my oorlede moeder se huis te herbou. Dit maak seer om die huis en meubels in die toestand te sien wat dit is,” het Brinkman gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer