Spierwit Kalahari
Die land het gister bibberkoue en ysige temperature beleef met die Kalahari wat haar ysjas aangetrek het.
Op die Jansen Kalahari-gasteplaas in die omgewing van Kalkrand en Hoachanas het die ys gisteroggend wit op die duine gelê.
Op die plaas Rus-en-Vrede, oos van Leonardville, was dit -5 grade Celsius in die veld met ligte ryp op die lusernland.
“As jy droom om eendag sneeu te kan sien, is hierdie wonderskoon verby.”
Elders is -10 grade Celsius in die Erongoberge aangeteken en Aret von Koenen skryf op die WhatsApp-groep Weerinligting dit was -8 grade Celsius 35 km oos van Omaruru. Op die plaas Ombuerendende, 30km noord van Omitara, was dit -5,2 grade Celsius.
Freddie Koch wat op die Gross Barmen-pad buite Okahandja boer, se grasperk was ook spierwit met sy termometer wat -7 grade Celsius gemeet het. By Okahandja Mall was voertuie spierwit toegevries.
Suid van Okahandja op die Osona-landgoed, moes koue storte aangedurf word met meer as tien geisers wat glo gebars het, asook krane wat vroegoggend sonder water in die pype gevries was. Loodgieters op Okahandja was glo so besig in die dorp om pype en geisers te herstel, dat hulle nie na Osona kon uitgaan nie.
Temperature styg effe vandag, volgens die Meteorologiese Diens van Namibië (Meteona) wat geen weerwaak uitgereik het nie. Die koudste temperature wat vir vandag voorspel is, is 2 grade Celsius op Mariental en Stampriet. Dit sal na verwagting vandag sonnig en koud oor die Suide en sentrale dele van die binneland wees en later matig tot warm oor die sentrale dele word. Elders, sonnig en warm tot baie warm.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie