Sneeu vir Suide voorspel

Kouefront bring ligte reën
Die Namibiese weerkantoor sê die frontale afkoeling van die afgelope naweek sal vandeesweek vir erge koue vir die suidelike, sentrale en oostelike dele sorg.
Elvira Hattingh
Sneeu kan na verwagting vroeg vandeesweek oor die berge in die suide van Namibië voorkom.

Die Namibiese weerkantoor se Richard Nashikaku het verduidelik die frontale afkoeling van die afgelope naweek sal vandeesweek vir erge koue vir die suidelike, sentrale en oostelike dele van die land sorg.

Hy het gewaarsku dat gewas- en veeboere die nodige voorsorgmaatreëls moet tref.

Dit stem ooreen met waarnemings deur die nieregeringsorganisasie LandWater, wat satellietfoto's wetenskaplik ontleed en interpreteer.

Hier word gewaarsku dat die bolugstelsel, wat Sondag nog besig was om te ontwikkel, sy krag vanaf gister sou wys.

“Dis belangrik om te besef dat baie water en uitgebreide, sterk rukwinde op pad is,” word gesê.

Volgens die organisasie kan volumes wat weermodelle en –toeps voorspel, beduidend op sekere plekke oortref word en ʼn waarskuwing vir swaar reën word aan die Noord-Kaap gerig, terwyl die suide van Namibië gewaarsku word om “nie die potensiaal van hierdie stelsel te onderskat nie”.

“Ons werk met beduidende hoë vlakke van ‘wetenskaplik onsekere reën’ waarvan die somtotale nie op toepassings verskyn nie, maar wat wel op grondvlak sal wys. Ons gaan met uitgebreide , sterk rukwinde oor etlike dae te doen kry,” word gewaarsku.

“Deur die week sal verspreide koue oor dele van Namibië en Suid-Afrika heers.

Toeps soos windy.com voorsien ook dat ligte sneeu in die suidwestelike dele van die land kan voorkom, asook in die ooste.

Hier word minimumtemperature van so laag as -3 °C en -2 °C vandag en môre verwag, terwyl die hoofstad se minimumtemperatuur vandag na verwagting -4 °C met ’n maksimumtemperatuur van 14°C sal wees.

Die Suide het gister hulle eerste winterreën ontvang.

“Dit het nou op die plaas 30 km van Stampriet af op pad tussen Aranos en Stampriet begin reën en dit is vrek koud,” het Alana van Dyk gesê.

By die kus het Lüderitz en Swakopmund ligte buie in die oggend gehad en op Walvisbaai het bykans 4 mm reën geval terwyl dit in Oranjemund gereën en gehael het.

By NamibRand-natuurreservaat was dit gisteroggend 4 °C met ’n yskoue wind wat gewaai het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer