Nat bibberweer
Koue winterreën het gister in die Suide van Aroab, Keetmanshoop, Rosh Pinah tot Maltahöhe uitgesak.
Swaar donderbuie en reën kan vandag oor die Suide voorkom met ’n moontlikheid van kitsvloede en sterk winde sal voortduur.
Dit is volgens die weerwaak wat deur die Namibië Meteorologiese Diens (Meteona) wat waarsku dat die nodige voorsorgmaatreëls getref moet word.
Intussen het die bekende boer en weerkenner van Aranos, George van der Merwe, gewaarsku oor swaar reënbuie van meer as 100 mm wat kan voorkom met die vloei van vog wat noordooswaarts gaan beweeg.
“Dit is ’n uiters gevaarlike situasie wat kan ontwikkel,” het hy gesê en gemaan die ergste koue gaan van Windhoek af noordwes voorkom.
Onafhanklike meteoroloog Vilho Ndeunyema maan oor ysige temperature môre en oormôre wat tot minus 2 grade Celsius kan daal. Hy voorspel ook ’n kans van 90% vir die ontwikkeling van donderbuie in die die Suide, Noordooste en die kus.
Meteona verwag dat dit vandag gedeeltelik bewolk en koel tot matig in die Suide gaan wees, met swaar donderbuie en reën.
“’Enkele tot geïsoleerde donderbuie en reën is waarskynlik op plekke oor die oostelike en sentrale dele, met gedeeltelik bewolkte en warm tot baie warm toestande in die Noorde.”
’n Matige tot fris suidwestelike tot suidoostelike wind kan verwag word.
Vir die kus voorspel Meteona matige donderbuie en reën oor die suidelike kus waar dit gedeeltelik bewolk en koel tot matig sal wees met miskolle oor die noordelike en sentrale kus.
“Dit is bibberboudjies koud. Ek gewaar fyn kapok saam met die druppels hier op die plaas Orion by die Swartrante naby Maltahöhe,” het boervrou Elize Cilliers, gister op die WhatsApp-groep Weerinligting geskryf. Sy het aan Republikein gesê die kapok het saam met die druppels vinnig gesmelt.
Marie Becker het laat weet 1 mm sagte reën het met tussenposes op NaOs in die Groot Karasberge geval en die weer het gedreun ook. Die plaas Tranental, 50 km suid van Aroab, het ook 1 mm Dinsdagaand gehad.
Frikkie Mouton van Alte Kalköfen Lodge op die pad tussen Keetmanshoop en Aus het ook reën aangemeld, asook Pieter Steenkamp by die Zackenberge waar dit baie liggies gedrup het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie