'n Papsopwinternatsprokie

-
-
Henriette Lamprecht

Ysige temperature, reën, hael, donderweer, blitse en erge wind met riviere wat loop, ‘n dam se sluise wat noodgedwonge moes oop en lae slierte mis wat jou kon laat verbeel jy is iewers langs die kus. 

Die weer en die politiek is vanjaar ewe deurmekaar was een se kommentaar oor die Suide van Namibië wat die afgelope paar dae duppelsyfers uit reënmeters gegooi het. ‘n Ander beskryf dit as ‘n “ander jaar” en iets wat sy nog nooit beleef dat dat dit hierdie tyd van die jaar soveel reën kry nie en “ek is nie jonk nie”. 

Selfs die Karasberge het haar mooiste winterbaadjie aangetrek, met die “vloere” tussen Helmeringhausen en Maltahöhe wat nog “nooit” die tyd die jaar so gesien is nie.

Teen 06:00 gisteroggend het die vlak van die Nautedam op 116,9% gestaan na beduidende reënval en gevolglike invloei in die Hardap- en ||Kharasstreek die afgelope paar dae.

Om veilige vlakke te handhaaf het NamWater Sondag met beheerde vrylatings uit die dam begin. 

Op die groep Weerinligting is laat weet Westdene in Keetmanshoop het vanaf Woensdag tot gisteroggend 62 mm uitgegooi. Voorbegin 16 km noord van Klein Karas het Saterdagaand 16 mm uitgegooi. Op die plaas waar die Kalköfen Lodge geleë is, het die Sandverhaarrivier geloop, terwyl die lodge tydens een sarsie 34 mm aangeteken het. Langverwacht 32 km wes van Gochas se een wins was 20 mm, terwyl Wartburg 60 km suid van Maltahöhe Donderdag tot Vrydag 66 mm tot 72 mm net vir Donderdag en Vrydag gemeet het. Op Skemerhoek naby Aranos het die wind op ‘n stadium teen 51 km per uur op die plaas getier. Macduff’s-kasteel 60 km suidwes van Bethanie het van Woensdag ‘n gemiddeld van 35 mm oor ses reënmeters gemeet. Vir Akam Deel 3 was die oes tot Saterdag 50 mm.

Adlerdhorst se oes was 90 mm en Steinfeld 59 mm. Manubi 20 km noord van Koës het vir twee dae 46 mm tot 56 mm gemeet. By Klein Aus Vista naby Aus is 15 mm gemeet, terwyl Biltongplaas 50 km oos van Aus vir drie dae 37 mm gemeet het. Donderdag en Vrydag is onderskeidelik 9 mm en 5 mm op Lüderitz gemeet. 

Zonderloop 103 km suidoos van Mariental op die Kalkplato het tussen 16 mm en 53 mm oor drie dae geval. Koenjas 10 km suid van Helmeringhausen het 70 mm uitgegooi.

By Wêreldend is tussen 80 mm en 94 reën op die westelike deel van die plaas gemeet. Die weerkantoor voorspel vir vandag gedeeltelike bewolk en matig tot warm weer met reën wat in die oggendure oor die verre suidooste van die ||Kharasstreek kan voorkom. ‘- [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer