Kunene spring sy walle
Die Kunenerivier is in vloed en oorstroom sy walle met lodges en kampeerplakke stroomaf wat reeds onder water is.
“Dis baie baie water, Ons oorleef net-net,” het Sophia Potgieter, mede-eienaar van Omunjandi-ruskamp gister aan Republikein gesê.
Dié ruskamp wat sowat agt kilometer wes vanaf die Ruacana-waterval geleë is, het verlede jaar ook onder die Kunene se magtige waters deurgeloop.
Dit is die agtste keer wat Omunjandi oorstroom.
“NamPower se sirenes by die kragstasie by Ruacana het afgegaan en die water is nog besig om te styg. Sodra die sirenes afgaan, kry ons die water sowat ’n uur of uur en ’n half later,” het sy verduidelik.
Potgieter sê op hierdie stadium sit hulle almal langs die rivier op hete kole.
“Ek moes Maandagaand my huis ontruim en na ’n hoër gebied getrek het. Ons bel die beheerkamer van NamPower as die sirenes afgaan om meer inligting van die riviervlak te kry.”
Sy het bevestig vanjaar het geen diere darem weggespoel soos in vorige oorstromings toe varke, eende en hoenders stroomaf deur die die magtige waters meegesleur is nie.
Die diere word gewoonlik na die bult geneem, maar die Potgieters was gister besig om die beeste, perde, skape en bokke na ’n plaas toe 40 km vanaf die ruskamp te trek.
“Daar het wel ’n kat in die boom in die middel van die rivier geklim wat nog per boot gesoek word,” het Potgieter gesê.
“Tans is daar twee sluise by die omleidingswal van die kragstasie van NamPower oop wat elk water teen 700 kubieke meter per sekonde vrylaat en twee kleiner sluise wat saam ook 700 kubieke meter per sekonde vrylaat.
“Daar is nog water uit Angola op pad,” het sy gesê.
Omunjandi-ruskamp is nog tot verdere kennisgewing oop.
“Die kampeerplekke op die bult is nog oop, maar dié teen die riviere is onder water.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie