‘Gevaarlike reënruimte nader’
Reënbuie met swaar donderweer en blitse het in die diep Suide geval met buie wat noord- en ooswaarts versprei het.
Daar kom nóg reën én koue met LandWater wat maan dat weerwaarskuwings dopgehou met word.
“’n Baie woelige en gevaarlike reënruimte nader veral later volgende week en die week daarop.”
Volgens reënberigte op verskeie sosialemediaplatforms het die plaas Selderus by Karasburg die meeste reën gehad met 45 mm, gevolg deur 40 mm op die plaas Onverwag tussen Grünau en die Kleinkarasberge en die plaas Spitskop, 40 km buite Koës.
Ook in die Suidooste het Mata Mata, Tweerivier, Ariamsvlei en Aroab buie van tussen 20 mm en 30 mm aangeteken en Middelplaas, 15 km wes van Warmbad, 35 mm.
Die plaas Narubis, 60 km suid van Keetmanshoop, het 37 mm gehad en Holoog, 105 km wes van Keetmanshoop 28 mm.
Die plaas Welbedacht, 40 km oos van Mariental, het 25 mm gehad en op die droë Kalkplato op die plaas Zonderloop, 103 km suidoos van Mariental, is ’n dankbare 22 mm gister uit die reënmeter gegooi en op die dorp tussen 16 mm en 18 mm.
In Stampriet se omgewing het daar tussen 20 mm en 22 mm geval, tussen Stampriet en Aranos 17 mm en by Haruchas Suid, 12 km suid van Gochas, 19 mm. Ook in die Kalahari op die plaas Edenville, 55 km suid van Blumfelde, het tussen 15 tot 18 mm geval, op die plaas Trompie by Leonardville 10 mm en Nina 7 mm. Gobabis se omgewing het ook sowat 10 mm gehad, Buitepos 8 mm, Omitara 4,5 mm en Oamites 7 mm.
In die Suidweste het Aussenkehr en Rosh Pinah 5 mm aangeteken en by die Swartrante tussen Bethanie en Helmeringhausen 3 mm.
In die sentrale dele het 5 mm by Hochfeld uitgesak, in die Rehoboth-distrik 4 mm en 3 mm by Okahandja en Omaruru, met Kalkfeld wat 2 mm met bietjie hael gehad het.
In die hoofstad het buie gewissel van 8 mm in Windhoek-Wes, 7 mm in Ludwigsdorf, 6 mm in Academia, Elisenheim, Dorado Park en Pionierspark, 5 mm by Finkenstein, Avis en Eros en 4 mm in Suiderhof. Plot 634 Many Hills, 30 km wes van Windhoek op die C28-pad het 6 mm verwelkom.
In die Weste het die plotte in die Swakopriver 2 mm gehad.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie