u2019n Plaashuisie waar inwoners op seisoenale reu00EBnval staatmaak. Foto ter illustrasie/Argief
u2019n Plaashuisie waar inwoners op seisoenale reu00EBnval staatmaak. Foto ter illustrasie/Argief

Droë, warm seisoen lê voor

Weerwaarskuwings skiet tekort
Volgens die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) is die kans bykans 100% dat die El Niño-weerverskynsel tot in Februarie 2027 sal voortduur
Adam Hartman

Die Suider-Afrikaanse Streekklimaat-vooruitsigforum het vir die hele 2026-’27-reënseisoen onder-normale reënval oor Namibië voorspel. 

Die forum, SARCOF-33, voorspel minder reën as normaalweg van Oktober 2026 tot Maart 2027 oraloor Namibië. Dit geld vir die hele reënseisoen, met weerkundiges wat seker is oor hierdie maande tot en met Februarie 2027. Temperature van Oktober 2026 tot Januarie 2027 sal na verwagting bogemiddeld oor die grootste deel van die Suider-Afrikaanse streek wees.

Die vooruitsig steun op El Niño-toestande in die Stille Oseaan, wat weermodelle verwag om rondom Oktober tot Desember sterk tot baie sterk vlakke te bereik, asook op ’n weerpatroon in die Indiese Oseaan wat na verwagting vanaf September sal ontwikkel.

Die forum sê die vooruitsigte moet nie gelees word as ’n vooruitskatting vir bepaalde distrikte of individuele maande nie en raai die publiek aan om vir daardie besonderhede hulle tot hul nasionale weerdienste te wend.

Tydens die onlangse byeenkoms van die forum op Swakopmund het ’n beampte van die Namibië Meteorologiese Diens (Meteona) gesê sulke vooruitskattings bereik al lank nie die publiek in ’n bruikbare vorm nie.

Sieglinde Somses, ’n meteorologiese tegnikus vir klimaatdienste by Meteona, het tydens ’n paneelsessie by die forum gesê haar sektor het vir jare lank versuim om vooruitskattings in terme te stel wat die publiek kan gebruik.

“Die tegniese terminologie is een van die hoofstruikelblokke waarmee ons sukkel,” het sy gesê.

Sy het gesê vooruitsigverklarings soos hierdie een vereis opvolg wat nie plaasvind nie.

“Ons stuur hierdie inligting uit, maar ons volg nie op nie. Ons volg net nie op nie, maar ons moet opvolg,” het sy gesê.

Somses het gesê daar word van lidlande verwag om die streekvooruitsig af te skaal na nasionale vooruitskattings en dat die nasionale vooruitskattings die plek is waar die leemtes aangespreek behoort te word.

McLarence Mandaza, tegniese leier vir omgewingsvolhoubaarheid en klimaat by World Vision Suider-Afrika, het gesê die wetenskap is nie die leemte nie.

“Ek dink ons het konsekwent bewys dat die vooruitskatting nie meer die probleem is nie,” het hy gesê.

Hy het gesê min distrikte en gemeenskappe weet watter optrede ’n vooruitskatting behoort te ontketen en dat geld om vooraf op te tree nie beskikbaar is nie.

“Befondsing vir voorkomende optrede het onder 5% gebly”.

Mandaza het gesê El Niño word gelees as ’n waarborg vir droogte.

“Wanneer gemeenskappe van El Niño hoor, dink hulle outomaties dit gaan ’n verskriklike droogte wees, maar dit gaan oor voorbereiding,” het hy gesê.


ROOIKRUIS

Eben Kalondo van die Namibiese Rooikruisvereniging (NRCS) het gevra vir ’n kontrak wat weerkundiges, die regering, telekommunikasie-operateurs,die  media en humanitêre agentskappe aan meetbare optrede bind.

“Anders beteken die vooruitskatting niks,” het sy gesê.

Johanna Nashipili, waarnemende adjunkdirekteur in die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie, het gesê radio en televisie bereik 94 persent van die bevolking, en dat elk van die 14 streke ’n plaaslike radiostasie het wat nasionale boodskappe in plaaslike tale vertaal. Sy het gesê ’n nasionale noodtelekommunikasieplan wat tolvrye noodnommers voorsien, is verlede jaar van stapel gestuur.


WMO 

Volgens die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) is die kans bykans 100% dat die El Niño-weerverskynsel tot in Februarie 2027 sal voortduur en dat bogemiddelde temperature wêreldwyd sal voorkom.

Boonop kan dit die sterkste El Niño wees sedert monitering van dié soort weerverskynsel meer as vier dekades gelede begin het.

So het Celeste Saulo, sekretaris-generaal van die WMO, verlede week in Genève, Switserland, op ’n mediakonferensie gesê.

Die huidige El Niño het in April ontstaan en sedertdien versterk. Temperature sal hoër wees as die vorige rekordtemperature wat in die 2023-'24-seisoen aangeteken is, die warmste jaar sedert rekordhouding begin het.

’n El Niño word amptelik verklaar wanneer seetemperature in die tropiese oostelike Stille Oseaan tot meer as 0,5 °C bo die gemiddelde temperatuur op langtermyn styg. Daar is vanjaar ’n styging van tussen 1,5° C en 2°C van Mei tot Julie in die seetemperatuur aangemeld. In Augustus is ’n styging van 2,6 °C aangemeld.

Die styging in seetemperature veroorsaak wêreldwye veranderinge in wind, lugdruk en reënvalpatrone wat die algehele temperatuur wêreldwyd laat styg.

Seetemperature onder die oppervlak is ook buitengewoon hoog. In sommige gebiede was dit meer as 8 °C hoër in Julie en Augustus in vergelyking met vorige jare.

Saulo het gewaarsku El Niño gaan wêreldwyd ’n reuse-impak op ekonomieë, gesondheidstelsels, vervoerstelsels, die landbousektor en rampbestuurstelsels hê. Daar word in dié verband voortdurend samesprekings met lande se weerdienste gehou en waarskuwings word uitgereik.

“El Niño hoef nie ’n resep vir ’n ramp te wees nie. Ons beskik oor die vooruitskattings en lande kan hulself dus voldoende voorberei,” het Saulo gesê.

Volgens haar is El Niño op die agenda van die Afrika-Unie (AU).

Die WMO werk wêreldwyd saam met lande se onderskeie meteorologiese dienste en koördinasie is van groot belang, het Saulo gesê.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer