Vissers vra regering moet help

Aurelia Afrikaner
Werkers van die Etosha Fishing Corporation (Pty) Ltd en Kuiseb Fishing (Pty) Ltd het onlangs ’n vreedsame betoging in Windhoek voor die kantoor van die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming gehou.

Hulle doen ’n beroep op die regering om in te gryp in wat hulle as ’n voortslepende krisis in Namibië se visbedryf bestempel.

Twee afsonderlike klagskrifte is oorhandig – een deur Elise Werner wat werkers by Etosha Fishing verteenwoordig en nog een deur Edwin Korupanda, wat 47 vissers in diens van Kuiseb Fishing verteenwoordig.

Die ministerie se toe uitvoerende direkteur, Annely Haiphene, het die klagskrifte namens minister Mac Hengari in ontvangs geneem.



ETOSHA FISHING

Werkers van Etosha Fishing het kommer uitgespreek oor ’n moratorium van agt jaar wat op sardynvangste geplaas is, wat die maatskappy laat sukkel om kop bo water te hou.

“Die regering het vir meer as agt jaar die visbedryf beperk om sardyne te vang en die marsbankertoekennings is nie genoeg om ons fabriek te onderhou nie,” het Werner gesê.

Etosha Fishing is tans die enigste inmaakfabriek in die land. Werkers kon die fabriek aan die gang hou deur sardyne uit Marokko in te voer, maar dit het in 2022 finansieel onvolhoubaar geword.

“Werkers het verlede jaar net vir drie maande gewerk en hierdie jaar nog glad nie,” het sy gesê.

Tans word hulle net vir vier en ’n half uur betaal terwyl hulle by die huis sit, wat volgens die werkers nie genoeg is om te oorleef nie.

Die sukkelende werkers het ook ’n mariene-opname deur die regering kritiseer wat veronderstel was om die voorraadvlakke van vis oor 12 maande te bepaal, maar die opname is egter binne agt maande voltooi.

“Ons kan nie aanhou wag nie, want die seisoen begin in April en duur tot Oktober. Ons moet die kwessie sonder enige verdere vertragings bespreek,” het Werner beklemtoon.



KUISEB FISHING

Korupanda, wat die 47 vissermanne verteenwoordig in diens van Talent Tide Employment and Fishing Services (Pty) Ltd, ’n maatskappy verbonde aan Kuiseb Fishing (Pty) Ltd, sê op sy beurt die ministerie het ’n viskwota aan Kuiseb Fishing toegeken met die verwagting dat die maatskappy vissers direk in diens sal neem.

In plaas daarvan het Kuiseb Fishing egter volgens die vissers Talent Tide Employment and Fishing Services geskep, wat nou as ’n derdeparty-arbeidsverhuringsmaatskappy optree.

“Die maatskappy wat ons in diens het, het geen ooreenkoms met die ministerie nie en het geen visvangregte nie,” sê Korupanda.

Die werkers het ook verwys na die instelling van ’n pensioenfonds wat glo sonder hul insae geskep is.

“Die maatskappy dra net N$41,25 per maand per werker by, wat net N$9 900 oor 20 jaar beloop. Dit is duidelike uitbuiting.”

Beide groepe dring aan op ’n dringende vergadering tussen hul vakbond, die Namibiese See- en verwante werkersunie (Nasawu), die bestuur van die onderskeie maatskappye, sowel as die ministerie van visserye voordat die visseisoen begin.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer