Russiese vissers ‘gestrand gelaat’ op boot
Sowat 15 buitelandse bemanningslede van die vissersvaartuig Venus 1, wat aan Hodago Fishing behoort, sê hulle sit al maande lank gestrand op die boot sonder betaling.
In ’n video wat op sosiale media sirkuleer, het die vissers gesê 13 van die ongeveer 15 bemanningslede is Russiese burgers.
“Ons is al vyf maande gyselaars van die huidige situasie; die skeepseienaar, Hodago Fishing, wat die dienskontrakte uitgereik het, het in werklikheid vir ons gejok," luidens die video.
“Op 29 Desember 2025, onder druk van Daron Agency en Hodago Fishing, ná ’n kort herstelwerk (en eintlik op ’n noodvaartuig), het hulle ons gedwing om te gaan visvang, met die belofte dat betalings aan ons gemaak sou word wanneer die boot in die hawe aankom.
"Van 29 Desember tot 20 Januarie het die boot sowat 600 ton bevrore vis gelewer. Ná die aflaai van die visprodukte by die pakhuis, het dit duidelik geword dat hulle nie van plan is om die bemanning te betaal nie.”
Die werkers het verduidelik dat hulle hulp by die Internasionale Vervoerwerkersfederasie (ITF) moes soek.
“Met die hulp van ’n ITF-inspekteur uit Suid-Afrika is beslag op die vaartuig gelê. Oor die afgelope twee maande het Hodago Fishing voortgegaan om betaling en repatriasie te belowe, terwyl dit regsverrigtinge vertraag wat daartoe kan lei dat die boot opgeveil word om die skuld aan die bemanning terug te betaal.”
Die vissers het gesê hul voorrade het die afgelope twee maande twee keer op die boot opgeraak.
“Eers nadat ons die konsul van die Russiese Federasie gekontak het, het ons voorrade ontvang, maar dit het slegs 30% beloop van wat aangevra is. Tans is daar geen voorrade aan boord nie en net sowat een week se brandstof bly oor om elektrisiteit te hê.”
PASPOORTE GLO GEVAT
Die bemanning beweer ook dat hul paspoorte met aankoms gevat is.
“Ons paspoorte is gevat onder die voorwendsel van werkvisums en hul verblyfplek bly onbekend. Ons is in werklikheid gyselaars en doen ’n beroep op ingryping, ook van die president van Namibië.”
In reaksie hierop het Hodago Fishing ’n verklaring uitgereik waarin dit die bewerings deur die bemanningslede van Venus 1 1 ten sterkste verwerp.
“Kos en noodsaaklike voorrade is aan die vaartuig voorsien. Op 1 April 2026 is ’n bevestigde betaling gemaak om die voorsiening aan die bemanning te verseker.
“Die hoeveelhede wat afgelewer is, weerspieël ’n bygewerkte evaluering van bestaande voorrade aan boord – ’n standaard logistieke bepaling en nie ’n vermindering in die maatskappy se verbintenis tot tot die welstand van die bemanning nie,” lui die verklaring.
Dit het bygevoeg dat sekere logistiek rakende die bemanning, insluitend dokumentasie, onder derdeparty-kontrakteurs val.
“Hodago Fishing is aktief in gesprek met die betrokke partye om ’n oplossing te verseker.”
Die maatskappy sê die welstand van alle bemanningslede bly hul eerste prioriteit, hulle monitor die situasie noukeurig en bly reageer op enige veranderende behoeftes op die grond.
Dit maatskappy het erken dit vaar tans deur moeilike waters vaar “’n tydperk van beduidende operasionele beperking”.
Dit spruit volgens Hodago voort uit ’n kombinasie van uitdagings in kommersiële reëlings, asook wanbelynings en tekortkominge in die uitvoering van ooreengekome verpligtinge binne sekere reëlings wat deur derdepartye bestuur word.
“Hierdie sake is aktief onder hersiening en word deur voortgesette finansieringsgesprekke en ’n gestruktureerde besigheidsherstelproses aangespreek.
“Dit is ’n tydelike beperking, nie ’n aanduiding van institusionele mislukking nie. ’n Omvattende herstelstrategie is in plek en die maatskappy is aktief in gesprek met voornemende finansieringsvennote en strategiese rolspelers om volle operasionele kapasiteit te herstel,” lui die verklaring
Die maatskappy het gesê dit word ook geraak deur vertraagde en gedeeltelike finansiële verpligtinge van gekontrakteerde partye.
GEEN AFLEGGINGS
Dit het gesê ondanks die “druk” is geen afleggings gedoen nie.
“Namibiese werknemers, insluitend seevaarders, vaartuigbemanning en administratiewe personeel, bly in diens.
“Die direkteure van die maatskappy het vrywillig hul eie vergoeding verminder as ’n duidelike verbintenis om die breër arbeidsmag gedurende hierdie tydperk te beskerm.”
“Onderhandelinge oor finansiering duur voort, herstelinisiatiewe is aan die gang en die bestuur is oortuig dat, met die voortgesette samewerking van alle rolspelers, ’n volhoubare oplossing binne ’n bepaalde tydraamwerk haalbaar is.”
Hodago Fishing het ook onlangse beriggewing gekritiseer en gesê dit was op onvolledige inligting gebaseer en het nie die volle konteks weerspieël nie. “Ongeverifieerde of onvolledige beriggewing oor ingewikkelde kommersiële aangeleenthede dra ’n meetbare risiko van wanvoorstelling – een wat in hierdie geval die potensiaal het om aktiewe betrokkenheid van beleggers wesenlik te ondermyn en kritieke finansieringsprosesse te vertraag, tot die direkte nadeel van werknemers, skuldeisers en ander rolspelers wie se belange sulkr beriggewing moontlik poog om te dien.”
Dit het bygevoeg dat die maatskappy ’n gestruktureerde herstelplan met oorleg en dringendheid uitvoer.
“Ons vra alle rolspelers vir geduld en konstruktiewe betrokkenheid terwyl hierdie proses tot ’n einde kom.”
RUSSIESE AMBASSADE
Die Russiese ambassade in Namibië het ook aangedui dat hulle bewus is van die huidige situasie oor die bemanning van Venus 1 en saam met die betrokke owerhede werk om die kwessie op te los.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie