’n Skermgreep van een van die video’s op sosiale media oor honderde visse wat na bewering langs die sentrale kus gevang is. Foto Facebook
’n Skermgreep van een van die video’s op sosiale media oor honderde visse wat na bewering langs die sentrale kus gevang is. Foto Facebook

Hengelaars beboet, agt van Suid-Afrika

Adam Hartman
’n Groep van tien hengelaars – agt Suid-Afrikaners en twee Namibiërs – is verlede Vrydag by Terracebaai in ’n verbode gebied met 18 kabeljoue betrap.

Hulle is met ’n gesamentlike boete van N$63 000 gestraf.

Beamptes van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne het op die groep afgekom. Hoewel hulle visvangpermitte bekom het, het hulle nie aan die voorgeskrewe voorwaardes voldoen nie.

Die twee plaaslike mans, Asenane Shikongo (30) en Johannes Kaimbi (46), het glo die groep na die verbode gebied geneem.

Die Suid-Afrikaners is Singh Vlschal (52), Allshay Jargarnath (52), Fenzil Shah (43), Sanjas Manilall (59), Ashley Ramidath (44), Umoshi Karson (62), Rajish Jaichahn (65) en Vijakahand Maharaj (52).

Hulle is met 18 kabeljoue (sommige ondermaat) met ’n gesamentlike waarde van sowat N$1 080 in hul besit betrap.

Die Namibiese polisie se woordvoerder, adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, het aan Network Media Hub (NMH) bevestig dat die tien mans in hegtenis geneem is.

“Die mans is duidelik skuldig aan verskeie oortredings van regulasies vir die beskerming van mariene hulpbronne en natuurbewaring. Die owerhede het vinnig opgetree om verdere onwettige aktiwiteite te voorkom,” het sy gesê.

Die oortreders is aangekla van die onwettige vang van mariene hulpbronne, die besit van kabeljoue onder 40 cm en ander bewaringsverwante oortredings ingevolge die Natuurbewaringsordonnansie van 1975.

Ná hul aanhouding by die Khorixas-polisiekantoor, het hulle Maandag in dié dorp se landdroshof verskyn. Elkeen is ’n boete van N$3 000 of die alternatief van ses maande tronkstraf opgelê ten opsigte van die aanklag van onwettige visvang.

Elkeen is ook met N$300 beboet vir die ondermaat kabeljoue en ’n bykomende boete van N$3 000 is opgelê vir die bewaringsverwante oortredings. Die boetes beloop N$63 000 in totaal vir al tien oortreders.



SOSIALE MEDIA

Dié voorval kom te midde van toenemende kommer oor sosialemediaplasings waarin onbekende mans met groot hoeveelhede kabeljoue spog, wat vermoedelik langs die sentrale kus gevang is.

Hoewel die owerhede nog nie hierdie video’s direk met die Terracebaai-voorval verbind het nie, het die beeldmateriaal openbare verontwaardiging ontlok oor moontlike wydverspreide onwettige visvangpraktyke.

Shikwambi het die publiek aangemoedig om enige verdagte visvangaktiwiteite aan te meld.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer