Viswerkers op Walvisbaai. Foto Frieda Molotho
Viswerkers op Walvisbaai. Foto Frieda Molotho

GERP ‘van begin af tot mislukking gedoem’

Vissers ontvang toelaes van N$4 000
Die dokument getiteld ‘Die GERP: ’n Kritiese oorsig en beoordeling’ neem die regstellende skema in die visseryesektor oor ’n tydperk van ses jaar onder die loep.
Adam Hartman

Die regering se program vir regstellende indiensneming (GERP) loop die risiko om die geskiedenis in te gaan as “’n duur programmatiese en bestuursmislukking van die Namibiese regering”.

Dit volgens ’n inligtingsdokument wat Donderdag deur die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) gepubliseer is.

Die dokument getiteld “Die GERP: ’n Kritiese oorsig en beoordeling” deur Frederico Links, ’n navorsingsgenoot by die IPPR, neem die regstellende skema in die visseryesektor – wat in 2020 in die nasleep van die Fishrot-skandaal van stapel gestuur is – oor ’n tydperk van ses jaar onder die loep. 

Dit kom tot die slotsom dat “beskikbare inligting daarop dui dat die wyse waarop die GERP geïmplementeer en bestuur is, dit van die begin af tot mislukking gedoem het”. 

Die skema sal na verwagting in April 2027 ten einde loop. President Netumbo Nandi-Ndaitwah het dit in April tydens ’n geleentheid met rolspelers in die visbedryf op Walvisbaai aangekondig.

Volgens die IPPR het verteenwoordigers van voormalige vissers verwag dat die geleentheid ’n kans sou bied om die program reg te stel, maar hulle het die geleentheid “kwaad en verward” verlaat.

Die regering het gesê meer as 2 400 voormalige vissers is onder die skema in diens geneem, met 2 483 wat in Junie 2025 in die stokvis- en maasbanker-subsektore gerapporteer is.

Die IPPR betwis die aard van dié indiensneming. Oor die afgelope twee jaar het die instituut onderhoude gevoer met en opnames gemaak onder meer as 120 deelnemende vissers en bevind dat “byna almal van hulle vasgevang is in siklusse van ledige indiensneming”, betaal met ’n toelae van sowat N$4 000 per maand om by die huis te sit terwyl aangewese maatskappye GERP-kwotas hou.

Die IPPR sê hy het dienskontrakte gesien waarin ’n aangewese maatskappy verklaar dat hy nie werk kan waarborg nie, maar ’n basiese salaris sal betaal “vir so lank as wat daar ’n GERP-kwota is”.

Die dokument verwys na ’n brief van September 2025 waarin die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Wise Immanuel, die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, versoek het om die skema te ondersoek.

Hy het geskryf dat die betaling van werkers wat nóg by die werk teenwoordig is nóg wettig afwesig is,”nie net aan wanvoorstelling grens nie, maar ook moontlik op korrupsie – indien nie bedrog nie – kan neerkom”.

’n Oudit van die GERP deur die kantoor van die ouditeur-generaal het gevolg, met ’n verslag wat teen die einde van Desember 2025 uitgereik sou word. Geen verslag is bekend gemaak nie.

Die IPPR bevraagteken ook waarom tussen 600 en 700 oudwerknemers van United Fishing Enterprises – voorheen ’n filiaal van Namsov – van die skema uitgesluit is, ten spyte van herhaalde versoeke aan die regering sedert 2020.

Dit terwyl voormalige werknemers van Samherji-filiale en Seaflower Pelagic Processing (wat aan Fishcor behoort) wel daarby ingesluit is.

Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het nie op 'n versoek om inligting gereageer wat in Junie 2025 deur die IPPR ingedien is nie, ten spyte van herhaalde opvolgnavrae.

In die dokument word voorgestel dat die GERP-ervaring vir die hervorming van bestuur aangewend word, insluitend langtermyn-indiensnemingskanale, psigososiale ondersteuning en sterker meganismes vir aanspreeklikheid.

Dit haal Nandi-Ndaitwah se slotvraag tydens die geleentheid in April aan: “Terwyl ons hierdie geleentheid afsluit, is die vraag: ‘Wat gaan ons doen met dit wat ons geleer het?’”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer