Die rimpeleffek

Reuse-impak op hele ekosisteem
Ná ’n skielike ineenstorting van sardien- en ansjovisvoorrade het die opbrengs van klein pelagiese vis teen 1997 tot slegs ’n paar duisend ton gedaal en nooit weer herstel nie.
Damian Schreiber

Die laat 1960’s het ’n historiese hoogtepunt vir Namibiese kommersiële visvang aangedui, met rekordvangste wat aan wal gebring is. 

Die bedryf het gefloreer en in ’n enkele jaar is ongeveer 2,3 miljoen ton maasbanker, stokvis en klein pelagiese vis – hoofsaaklik sardien en ansjovis – gevang.

Etlike jare van ’n suksesvolle en florende visbedryf was egter van korte duur. 

Ná ’n skielike ineenstorting van sardien- en ansjovisvoorrade, en ten spyte van die instelling van beperkings op vangste in 1971, het die opbrengs van klein pelagiese vis teen 1997 tot slegs ’n paar duisend ton gedaal en nooit weer herstel nie. 

Hoewel stokvis en maasbanker se getalle ook afgeneem het, oorheers dit steeds vandag die vangste.

In die dekades ná die ineenstorting het die impak daarvan deur die hele ekosisteem gespoel. Bevolkings van onder meer jellievisse, maasbanker en spesies wat nie geteiken is nie, soos die grondelvis (goby), het toegeneem. Dit terwyl toproofdiere, soos die Afrika-pikkewyn en die Kaapse kormorant en witmalgas op hul beurt bedreig is. ’n Teken dat ’n enkele ontbrekende legkaartstukkie ’n hele ekosisteem tot potensieel onomkeerbare strukturele en funksionele skade kan dryf.

Die Benguela-stroom se groot mariene ekosisteem (BCLME), wat van die suidwestelike punt van Suid-Afrika tot in die suide van Angola strek, word deur die koue, voedingstofryke Benguela-opwellingstelsel – die lewensaar van Namibiese waters – aangevuur. 

Voedingstowwe wat uit die diepsee tot op die oppervlak styg, ontmoet die sonverligte oppervlak wat die massiewe oplewing van fitoplankton veroorsaak. As die grondslag van die voedselweb, onderhou hierdie primêre produktiwiteit klein pelagiese visse wat roofspesies, soos stokvis en, uiteindelik groter roofdiere soos mariene soogdiere en seevoëls, voed.

In die BCLME is die hele ekosisteem afhanklik van die beskikbaarheid van klein pelagiese visse. Hul hewige oorbevissing het skielik ’n belangrike laag van die voedselweb verwyder, met studies wat die daaropvolgende oorbevolking van jellievisse en grondelvisse met hierdie leemte verbind. 

In plaas daarvan om deur klein pelagiese visse “verbruik” te word, word klein organismes toenemend deur jellievisse verwerk. Intussen floreer grondelvisse op die gevolglike toename in dooie organiese materiaal wat na die bodem van die see sink. 

Aangesien jellievisse en grondelvisse so min natuurlike vyande het, sak die groot hoeveelheid voedingstowwe wat in hul liggame “toegesluit is”, uiteindelik ook na die seebodem. Dit skep ’n biologiese “dooiepunt”, wat verhoed dat hierdie noodsaaklike voedingstowwe terug na die boonste vlakke van die voedselweb herwin word. 

Sonder noemenswaardige roofdiere ding jellievisse direk met klein pelagiese visse mee vir prooi, soos fitoplankton en soöplankton. Hulle vreet ook vislarwes en -eiers, wat die herstel van die visvoorraad verder onder druk plaas. 

Alhoewel stokvis steeds ’n belangrike teiken vir Namibiese visserye is, het die spesie daaronder gely.

Verminderde werwing hou verband met ’n verskuiwing na prooi met ’n laer energie-inhoud, soos die grondelvis, tesame met verhoogde kannibalisme wat jong visse raak. Lae-energie prooi het ook ’n negatiewe impak op groter mariene fauna gehad.

Kaapse pelsrobbe, hoewel hulle hoogs opportunistiese vreters is, toon tekens van bevolkingstres in suidelike Namibië. Dit kan die verskuiwing in hul verspreidingsgebied van die suide na die noorde gedeeltelik verklaar. Intussen het die Afrika-pikkewyn, Kaapse malgas en kormorant – almal sterk afhanklik van gesonde sardien- en ansjovisvoorrade – geweldige bevolkingsafnames ervaar.

Die Afrika-pikkewyn staar ook uitsterwing in die gesig. Hierdie spesies speel ’n belangrike rol in die langtermynmonitering van visvoorrade bo en behalwe hul direkte assesserings. 

Hulle gaan see toe en duik in die water om te jag, maar hulle keer altyd na land of eilande terug om voort te plant, wat dit baie maklik maak om hulle te tel en te montor. Aangesien hierdie visvoorrade hul vernaamste voedselbron is, sal enige veranderinge in hul bevolkings dui op probleme onder die oppervlak wat andersins moeilik is om op te spoor.

Jong sardientjies migreer natuurlik noord langs Namibië se kus na die waters wat met Angola gedeel word. In hierdie gebied hou onwettige, ongerapporteerde en ongereguleerde (IUU)-visvang ’n groot bedreiging in. Dit beteken groot hoeveelhede visse word verwyder voordat hulle suidwaarts kan terugkeer om eiers te lê. 

Dié oorgrens-aktiwiteit is moeilik om te monitor en te kwantifiseer, wat buitelandse skepe in staat stel om Namibiese visvoorrade te benut en te buit. Intussen handhaaf Namibië ’n streng beperkte sardienkwota van slegs 10 000 ton per jaar, hoofsaaklik vir navorsingsdoeleindes.

Om IUU-visvang te takel, ondersoek nuwe inisiatiewe die gebruik van kunsmatige intelligensie (AI) om monitering te verbeter en verdagte bedrywighede op te spoor. Uiteindelik vereis die beskerming van hierdie voorrade sterker bilaterale ooreenkomste met Namibië se buurlande en verbeterde streekkoördinering deur die Benguela-stroomkonvensie (BCC).

Na aanleding van die onlangse verslapping van ’n gebiedsgebaseerde beperking vir die maasbankersektor, raak wetenskaplikes nie net toenemend bekommerd nie, maar waarsku hulle ook dat die voortgesette oorbenutting van visbronne die hele mariene ekosisteem bedreig. 

Dit is daardie kortsigtige strategie om opgeblase kwotas toe te laat wat die balans van die ekosisteem sal versteur. Boonop kan dit ook kwesbare habitatte op die seebodem beskadig, wat die reeds swak toestand van die mariene ekosisteem verder vererger.

Kenners het die invloed van die private sektor in die visseryebedryf gekritiseer en aangevoer dat dit uitermatige druk op die regering kan plaas om besluite in hul guns te neem. Hulle waarsku dat dit tot die voortgesette onvolhoubare gebruik van mariene hulpbronne kan lei. Dit het reeds in die sardiensektor gebeur en gebeur nou in die maasbankersektor. 

Hulle voer verder aan dat die regering ondersteun moet word sodat dit sy besluite op wetenskap en langtermyn-volhoubaarheid kan baseer. Dit sal help om visseryebestuur te verskuif na groter stabiliteit, verantwoordbaarheid en volhoubaarheid, tot voordeel van die hele mariene ekosisteem. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer