Die Walvisbaai Internasionale Lughawe. Foto verskaf
Die Walvisbaai Internasionale Lughawe. Foto verskaf

Walvisbaai-lughawe afgegradeer

STAFF REPORTER

Nuusredaksie

Die Independent Patriots for Change (IPC) het hul kommer uitgespreek oor die afgradering van die lugruim by die Walvisbaai Internasionale Lughawe na Klas G en gewaarsku dat dié stap lugvaartveiligheid kan benadeel en kommersiële bedrywighede kan ontwrig.

In ’n verklaring wat gister uitgereik is, het die IPC se skaduminister van werke en vervoer, Nelson Kalangula, gesê die afgradering volg op kommer oor vertragings en onakkuraathede in Terminale Lughawevoorspellings (TAF’s), wat kritieke weerinligting aan vlieëniers verskaf.

Volgens die IPC het ’n kennisgewing aan vlieëniers (Notam) wat gister uitgereik is, aangedui dat die lughawe se lugruim na Klas G afgegradeer is, wat ’n onbeheerde lugruim beteken.

Die party het die ontwikkeling beskryf as ’n “groot operasionele terugslag” vir Namibië se lugvaartsektor en sy tweede internasionale toegangspoort naas die Hosea Kutako Internasionale Lughawe (HKIA).

Die IPC het gesê die afgradering is veral kommerwekkend gegewe Walvisbaai se mis langs die kus en swak sigbaarheidstoestande. 

Kalangula het Dinsdag aan die parlement gesê die TAF by die Walvisbaai-lughawe en HKIA is sedert verlede week afwesig. TAF verskaf weervoorspellings vir lughawens en help vlieëniers om die weertoestande by lughawens te bepaal.

Kalangula het gesê die onderbreking plaas die lewens van vlieëniers en passasiers in gevaar en kan ook finansiële gevolge vir lugdienste inhou.

Hy het gesê die voorspellings was ook onakkuraat, wat kommer wek namate Namibië die reënseisoen betree. 

Volgens Kalangula verhoed die gebrek aan ’n behoorlik funksionele internetverbinding by die lughawens dat weerdata betyds opgedateer word.

Hy het gesê twee vlugte oor die naweek is van Walvisbaai na HKIA herlei, wat bykomende koste tot gevolg gehad het.

“Wat het die minister gedoen om bevoegdheid by die weerkantoor te verseker? En watter stappe word gedoen om ongelukke en herleiding na ander binnelandse lughawens en moontlik in die buiteland met betrekking tot lugvaartveiligheid te vermy?” het Kalangula gevra.

Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het Dinsdag in die parlement geantwoord dit is algemene kennis in die lugvaartsektor en ander bedryfsgebiede dat stelsels onderbrekings kan ervaar.

“Daar is ’n meganisme, soos goedgekeur deur die Internasionale Burgerlugvaart-organisasie (ICAO), wanneer enigiets verkeerd loop en nie normaalweg werk nie. Daar is iets wat ons ’n Notam noem wat uitgereik word,” het Nekundi gesê.

Hy het gesê die kennisgewings is gekoördineer deur die Namibiese Burgerlugvaartowerheid (NCAA) en bygevoeg dat ’n Notam uitgereik is rakende die weerstelselonderbreking.

“Die herstel is aan die gang. Dit is die inligting wat tot dusver aan my verskaf is,” het Nekundi gesê.

Hy het bygevoeg dat indien verdere besonderhede benodig word, die ministerie dit deur middel van ’n openbare verklaring kan verskaf wat die huidige bedryfsprosedures en enige bykomende reëlings uiteensit wat nodig is om die seepgladde werking van lugvaartdienste in die land te verseker.

Intussen het die Namibië Meteorologiese Diens (Meteona) sedert Saterdag midde die naweek se swaar reënbuie in veral die Suide, geen weervoorspellings op hul webtuiste opdateer nie. Republikein het Dinsdag vrae oor die kwessie aan die woordvoerder van die ministerie, Julius Ngweda gestuur, wat teen gistermiddag nie telefonies ’n antwoord kon verskaf nie. “Ek sal by Meteona sou uitvind, want ek is ook ’n boer.” Die eerste weervoorspelling in vier dae is vir vandag.

– [email protected]




 


Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer