Slaagsyfer van 14% vir nuwe leerlinglisensiestelsel

Volledige implementering in Maart 2027
Die vervoerminister sê die lae slaagsyfer weerspieël verbeterde integriteit, aangesien die gerekenariseerde toetsstelsel papierlekkasies uitskakel en werklike kennis van padreëls vereis.
Aurelia Afrikaner

Die Namibiese regering beoog om N$25 miljoen te belê in die modernisering van die land se leerlinglisensie-toetsstelsel – een van die belangrikste tegnologiese opgraderings aan padverkeerdienste in onlangse jare. 

By die amptelike bekendstelling van die gerekeneriseerde leerlinglisensie-toetsmetode en die bespreek- en betaalstelsel by die NaTIS-sentrum op Okahandja Maandag het die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, aangekondig dat die regering reeds ongeveer N$1,2 miljoen aan die proeffase by dié sentrum bestee het, met nog N$25 miljoen wat vir die landswye uitrol geoormerk is. 

Die gekombineerde belegging sal meebring dat die stelsel na al 43 NaTIS-sentrums oraloor Namibië uitgebrei word, ondersteun deur 288 gerekenariseerde toetseenhede. 

Nekundi het die inisiatief beskryf as ’n groot stap in die rigting van ’n moderne, tegnologiegedrewe vervoersektor, terwyl dit terselfdertyd die geloofwaardigheid van die leerlinglisensie-toetsproses herstel. 

Die nuwe gerekenariseerde toetsmetode vervang die tradisionele papiergebaseerde leerlinglisensie-eksamens – ’n skuif wat na verwagting eksamenlekkasies sal uitskakel, databeskerming sal versterk en onmiddellike uitslae aan aansoekers sal lewer. 

Volgens Nekundi is die stelsel reeds getoets en nou gereed vir implementering oraloor die land. Die minister het gesê die nuwe benadering bring ’n veilige en gestandaardiseerde toetsomgewing mee wat deursigtigheid en billikheid sal verbeter en die publiek se vertroue in die lisensiëringsproses sal verhoog. Saam met die gerekenariseerde toetsplatform het die regering ook die bespreek- en betaalstelsel bekendgestel – ’n digitale diens wat aansoekers in staat stel om toetse op afstand te bespreek, hul voorkeur-NaTIS-kantoor te kies, ’n geskikte datum en tyd te kies en betalings elektronies te doen. 

Die Paaieowerheid (RA) het die stelsel die afgelope twee weke by Okahandja se NaTIS-sentrum beproef. In dié tydperk is 450 aansoekers via die gerekenariseerde platform getoets. 

Die proeflopie het ’n slaagsyfer van 14% aangeteken – ’n syfer wat, volgens Nekundi, die doeltreffendheid van die nuwe stelsel toon om die integriteit van leerlinglisensie-eksamens te beskerm. 

Hy het beklemtoon dat die laer slaagsyfer nie negatief beskou moet word nie, maar eerder as bewys dat aansoekers nou onder omstandighede getoets word waar sukses uitsluitlik van hul kennis van padreëls en verkeersregulasies afhang. 

Die Okahandja-sentrum bied tans vier toetssessies per dag aan en kan tot 18 aansoekers per sessie akkommodeer. Die struktuur is bedoel om gehaltebeheer te handhaaf terwyl toegang tot toetsdienste geleidelik uitgebrei word. 

Ná die suksesvolle proeflopie sal die volgende implementeringsfase by die NaTIS-sentrums van Gobabis, Karibib en Keetmanshoop begin, voordat dit stelselmatig na die oorblywende geriewe landswyd uitgebrei word. Volledige implementering word teen Maart 2027 verwag. Nekundi het verder beklemtoon dat daar ’n hertoetsing sal wees: “Soos ons vorentoe beweeg, kan enigiemand wat onverantwoordelik bestuur, aan strenger hertoetsmaatreëls onderwerp word.

“Padveiligheid is ’n gedeelde verantwoordelikheid en alle padgebruikers moet hul deel doen om ongelukke te verminder en lewens te red,” het hy gesê. 

Vir motoriste beloof die belegging ’n toekoms waarin lang rye, papiergebaseerde eksamens en kommer oor die integriteit van toetse binnekort iets van die verlede kan wees.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer