Seaflower steeds gestrand op die rotse
Fishcor sê hy het nie die MFV Seaflower se reddingspoging laat vaar wat omstreeks 13:25 op Maandag 27 April 2026 by Penguin-eiland by Lüderitz op die rotse geloop het nie.
“Seaflower sal nie vir onbepaalde tyd op die rotse gestrand bly nie. Penguin-eiland is ’n omgewingsensitiewe gebied en ons is ten volle bewus van ons verantwoordelikhede,” het Fishcor se uitvoerende hoof, Alex Gawanab, gesê.
“Die vaartuig sal op die gepaste tyd met die regte benadering verwyder word, met inagneming van die sensitiwiteit van die omgewing,”
Volgens Gawanab het duikers die vaartuig se romp geïnspekteer en bevind dat dit beskadig is.
“Daar is ’n gat in die romp waardeur water die vaartuig instroom. As ons probeer om dit weer te laat dryf voordat die skade behoorlik beoordeel is, kan die water die vaartuig vinniger instroom as wat dit uitgepomp kan word en binne die baai sink. Dit sou ’n veel groter omgewingsrisiko skep,” het hy gesê.
Gawanab het gesê Fishcor wag op ’n professionele reddingsbeoordeling voordat daar oor die volgende stap besluit word.
“Ons jaag nie die proses aan nie. Ons het kwotasies van reddingspesialiste verkry en ons beoordeel of die koste om die vaartuig te herwin deur sy waarde geregverdig word. Hierdie beoordelings is steeds aan die gang,” het Gawanab gesê.
Fishcor en Namport het verskeie pogings aangewend om die vaartuig weer te laat dryf, maar was onsuksesvol weens die rowwe see en ongunstige weerstoestande.
Hy het gesê die maatskappy het intussen die brandstof en olie uit die vaartuig verwyder om die risiko van besoedeling tot die minimum te beperk.
“Ons prioriteit was om die risiko van ’n omgewingskwessie uit te skakel. Die brandstof en olie is sonder enige storting na ’n ander vaartuig oorgepomp, sodat die onmiddellike omgewingsrisiko aansienlik verminder is,” het hy gesê.
Fishcor raadpleeg ook Namport en die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme oor die volgende stappe.
“Ons oorweeg verskillende opsies, insluitend om die vaartuig saam met ’n vennoot te red of om dit in sy huidige toestand te verkoop, met die koper wat verantwoordelikheid aanvaar vir die herwinning daarvan en moontlike skroot of vir hergebruik,” het Gawanab gesê.
Hy het bygevoeg dat die vaartuig nie operasi was toe dit op die rotse geloop het nie.
“MFV Seaflower is al sowat vyf jaar buite werking ná ’n groot enjinfout. Weens opeenhoping by die hawe van Lüderitz en die gepaardgaande bergingsgeld, het Fishcor en Namport ooreengekom om die vaartuig geanker in die baai te hou.
Dit het meer plek in die hawe gelaat en bergingkoste verminder,” het Gawanab gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie