Protes, bring en braai teen spoedwalle
Aktivis Michael Amushelelo beplan ’n protesaksie Saterdag teen die gewraakte spoedhobbels op die westelike verbypad en die sluiting van die hoofweg.
“Bring kampstoele, koelboekse, braaitoerusting en gazebo’s. Ons kan net sowel die sirkus in ’n fees verander,” het Amushele in ’n video op Facebook gesê.
Die byeenkoms word van 07:00 tot 19:00 beplan.
In ’n ultimatum wat hy Sondag aan die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, gestuur het, het Amushelelo geëis dat die spoedhobbels teen vandag verwyder word.
“Sou u kantoor versuim of weier om teen die genoemde sperdatum aan hierdie eis te voldoen, sal ons geen ander keuse hê as om ons grondwetlike regte uit te oefen nie,” het hy geskryf.
Hy het die minister gedreig met “’n enorme vreedsame openbare protesaksie,” met die doel om “die B1 westelike verbypad vir die volle 12 uur op 20 Junie toe te maak,” het hy geskryf.
Amushelelo eis verder dat Nekundi die protesaksie bywoon om ’n klagskrif persoonlik in ontvangs te neem.
Die hoofwoordvoerder van die Namibiese polisie (Nampol), adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, het bevestig dat die hoofkantoor van Nampol die kennisgewing van die protesaksie ontvang het.
12 SPOEDHOBBELS
Intussen het die ministerie van werke en vervoer Woensdagmiddag bevestig dat die installasie van spoedhobbels op die westelike verbypad voortgaan.
Woordvoerders van die ministerie het verdere vrae na die Paaieowerheid (RA) en Stad Windhoek (CoW) verwys, wat volgens die ministerie die spoedhobbels aanbring.
Die woordvoerder van die hoofstad, Lydia Amutenya, het ontken dat CoW enige rol in die projek speel.
Nietemin het Hileni Fillemon, woordvoerder van die RA, bevestig dat altesaam 12 spoedhobbels vir die westelike verbypad beplan word.
Vier moet rondom die Lafrenz-nywerheidsgebied geïnstalleer word, vier onder die brug oorkant Katutura-staatshospitaal en nog vier tussen Prosperita en die Windhoek Country Club Resort, het sy verduidelik.
NEKUNDI VRA VIR GEDULD
Nekundi het gister bevestig dat die RA sal voortgaan om die spoedhobbels aan te bring totdat die projek voltooi is. Hy sê die spoedhobbels sal bly totdat die verkryging en oprigting van voetgangerbrûe afgehandel is, wat na verwagting voor die einde van die huidige boekjaar sal wees.
“Mense moet net geduldig wees,” het hy gesê en beklemtoon dat die oprigting van die voetgangerbrûe ’n proses is.
Die beplande protesaksie volg nadat die aktivis vir Nekundi hof toe gesleep het om die spoedwalle te verwyder.
Regter Gabriel Komboni sal na verwagting op 30 Junie 2026 in die hoërhof in Windhoek uitspraak lewer.
Amushelelo sê “die irrasionele besluit om spoedhobbels op ’n hoëspoed-deurgangsroete te plaas, het reeds voertuigeienaars enorme strukturele skade gekos, ernstige verkeersknope van byna ’n uur veroorsaak en verskeie ongelukke veroorsaak.
“Ons sal nie langer ledig toekyk terwyl openbare veiligheid in die gedrang kom nie,” skryf hy in die kennisgewing van protesaksie wat hy by Nampol ingedien het.
Hy versoek Nampol om voldoende verkeers- en veiligheidsbeamptes te ontplooi om skarebeheer te vergemaklik en die veiligheid van deelnemers te verseker.
Sedert die verskyning van die spoedhobbels kla motoriste steeds volstoom op sosiale media oor die gevolge van die spoedhobbels op pendelritte in en uit die hoofstad, veral tydens spitstye.
Buitelandse toeriste het ook al hul misnoë uitgespreek: “Dis onsmaaklik,” het ’n toeris wat Namibië minstens twee keer ‘n jaar besoek aan Republikein gesê.
Die RA het verlede week bewerings op sosiale media ontken dat die spoedhobbels op gedeeltes van die westelike verbypad en die A1-pad belastingbetalers N$12 miljoen gekos het en aangedui dat die werklike uitgawe tot dusver sowat N$704 000 beloop.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie