Vragmotors by die Katima Mulilo-grenspos in die Zambezistreek. Foto ter illustrasie/verskaf
Vragmotors by die Katima Mulilo-grenspos in die Zambezistreek. Foto ter illustrasie/verskaf

Oorlaaide vragmotors by Katima-weegbrug beboet

Oplewing in oorgrens handel
Invoerwaardes deur die grensposte by Katima Mulilo en Ngoma het ’n rekordbedrag van N$71 miljard bereik, terwyl uitvoere tot N$20 miljard gestyg het.
Nikanor Nangolo

Meer as N$1 miljoen is aan boetes van oorlaaide vragmotors en verkeersoortreders by die Katima Mulilo-weegbrug ingevorder, terwyl oorgrens handel in die Zambezistreek tot rekordvlakke opgeskiet het. 

Dit is volgens die goewerneur, Dorothy Kabula, wat bevestig het invoerwaardes deur die grensposte by Katima Mulilo en Ngoma het ’n rekordbedrag van N$71 miljard bereik, terwyl uitvoere tot N$20 miljard gestyg het. Dit is ’n toename van onderskeidelik N$52 miljard en N$13 miljard – wat die groeiende druk op grensinfrastruktuur langs die Walvisbaai–Ndola–Lubumbashi-ontwikkelingskorridor benadruk. 

Sy het gister tydens haar streekrede die inkomste uiteengesit wat uit afdwingingsoperasies teen oorlaaide vragmotors ingevorder is. 

Kabula het gesê die boetes aan 126 vragmotors wat bo die wettige limiet oorlaai was, het ongeveer N$406 000 opgelewer, terwyl nog 424 dagvaardings vir algemene verkeersoortredings, oortredings van oorgrens permitte en skendings van voertuigafmetings sowat N$667 000 bygedra het – wat die totale boetes tot op net meer as N$1 miljoen te staan bring. 

Sy het gesê 3 683 swaarvoertuie is gedurende die oorsigtydperk by die Katima Mulilo-weegbrug geweeg en nagegaan, hoewel sy ook syfers verskaf het wat dui op 8 680 gevalle van oorlading binne die toegelate 5% en 126 vragmotors wat bo 5% oorlaai was. 

Ten spyte van die inkomste-wins het Kabula gesê die weegbrug staar steeds bedryfsuitdagings in die gesig, aangesien dit slegs tussen 08:00 en 17:00 funksioneer, terwyl die Katima Mulilo-grenspos 24 uur per dag oop bly. Sy het bygevoeg dat dit ernstig onderbeman is, met net vier personeellede in plaas van die vereiste 12 wat vir 24-uur-bedryf nodig is. 

Kabula het gesê beplande opgraderings na ’n multi-dek-weegbrug en die instelling van die 24-uur-bedryf by Katima Mulilo en Walvisbaai gedurende die 2026-’27-boekjaar na verwagting oorlading op nasionale paaie sal verminder en instsandhoudinskoste sal sny. 

Sy het ook verwys na die vordering met die eenstop-grenspos by Katima Mulilo, ná die ondertekening van ’n bilaterale ooreenkoms tussen Namibië en Zambië. 

’n Haalbaarheidstudie is deur die Namibië Inkomste-agentskap (NamRa) voltooi en die streek wag op die uitslag. 

Die kabinet het verlede jaar maatreëls goedgekeur om die toenemende opeenhoping van voertuie by die Katima Mulilo-grenspos te takel, soos die instelling van vooraf klaring van dokumente om te verseker dat papierwerk verwerk word voordat vragmotors aankom en sodoende vertragings te beperk. Die ingrypings wat by die eerste besluitnemingsvergadering bekragtig is, het sowel korttermyn- as langtermyn-oplossings uiteengesit om die agterstand van vragmotors uit te klaar – waarvan sommige weens ondoeltreffende verwerking vir dae lank gestrand was. Onder die korttermynstrategieë is die implementering van klaringsagentreëls ingevolge die Doeane- en Aksynswet van 1998 beoog, om regulatoriese prosedures strenger te maak en doeltreffendheid te bevorder. 

Die regering het ook belowe om ’n vereniging van vragmotorbestuurders vir Namibië tot stand te bring om gestruktureerde dialoog tussen vragmotorbestuurders en grensbeamptes te fasiliteer, sodat knelpunte vinnig opgelos kan word. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer