Nekundi maan Yango-bestuurders
Namate die sperdatum van 30 April vir Yango-bestuurders nader skuif om hul openbare vervoerpermitte (PCP’s) te bekom, sê die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, dat hy persoonlik sal ingryp in gevalle waar aansoeke vir drie maande of langer hangend is.
Nekundi het verlede week in ’n onderhoud met Republikein bewerings van langdurige vertragings deur die Paaieowerheid (RA) van die hand gewys en die betrokke bestuurders aangespoor om met bewyse vorendag te kom.
Dit, terwyl verteenwoordigers van Yango se Afrika-bedrywighede verlede week na Windhoek gevlieg het om te probeer om die huidige dooiepunt met die owerhede op te los.
“Waar is hul bewys? Ons het sedert April verlede jaar meer as vyf vergaderings met die Yango-verteenwoordigers gehad en elke keer opper hulle hierdie kwessie. Maar wanneer ek hulle vra om bewyse te lewer, het hulle niks.
“Die proses behoort nie meer as drie maande te duur nie. Ons is nou in April. Enigiemand wat kan bewys dat hulle in Januarie of vroeër aansoek gedoen het, sal ek persoonlik hanteer. My kantoor is oop,” het Nekundi aan Republikein gesê.
SPERDATUM
Die huidige druk vorm deel van ’n reeks strenger sperdatums wat die afgelope jaar aan die sektor vir aanlyn vervoerdienste (e-hailing) opgelê is.
Reeds teen middel 2025 is operateurs opdrag gegee om die vereiste permitte teen die einde van September te bekom, anders loop hulle die risiko om van bedrywighede verbied te word.
Meer onlangs het die regering die afdwinging daarvan verskerp deur ’n ultimatum van 56 dae aan operateurs van aanlyn vervoerdienste, insluitend Yango en inDrive, te stel om ten volle aan nasionale vervoerwette te voldoen.
Daarbenewens is operateurs in ’n stadium so min as 28 dae gegee om hul bedrywighede te reguleer, ’n tydraamwerk wat talle in die bedryf aangevoer het te kort is gegewe administratiewe knelpunte.
Teen hierdie agtergrond staar bestuurders nou ’n ferm sperdatum van einde April in die gesig, wat kommer wek oor hul vermoë om betyds aan die nodige regulasies te voldoen.
BESTUURDERS STAAN TOU
Die minister se uitnodiging kom te midde van dosyne bestuurders in die hoofstad wat ’n massaregistrasie-inisiatief georganiseer het in ’n poging om die dreigende sperdatum te haal.
Lang rye het Donderdag by NaTIS se kantoor in die noordelike nywerheidsgebied gevorm, met bestuurders wat probeer het om hul permitte voor die afsnydatum te verwerk. Omstreeks 11:30 het diegene voor in die ry aan Republikein gesê hulle het toe al ongeveer ’n uur en 45 minute gewag.
Soos sake tans staan, kan bestuurders moontlik nie hul werk op die platform voortsit as hulle nie teen die einde van die maand in die besit van ’n PCP is nie. ’n Alternatief is om tydelike permitte te bekom wat vir ’n tydperk van 21 dae geldig is teen ’n koste van N$850 per hernuwing totdat hul langtermynpermitte voltooi is.
‘TRAE’ PROSES
Bestuurders sê hoewel hulle bereid is om aan die regulasies te voldoen, plaas administratiewe vertragings en stygende koste hulle onder druk.
“Ons is bereid om aan die regulasies te voldoen, maar die prosedures neem te lank. Die tydelike permit is duur, veral vir bestuurders wat nie die voertuie besit wat hulle bestuur nie. Hulle moet steeds die voertuigeienaars betaal,” sê Estevao Sebastino, wat reeds vir twee en ’n half jaar ’n inkomste op die platform verdien.
Hy het voorgestel die koste van tydelike permitte word verminder om die las op bestuurders wat vir goedkeuring van hul aansoeke wag, te verlig.
Nog ’n bestuurder, Eino Eino, het ’n verlenging van die sperdatum versoek en ondoeltreffendhede in die stelsel uitgewys.
“Dis ’n trae proses, die regering moet daaraan werk. Die minister het ’n sperdatum gestel en ons wil daaraan voldoen, maar dit plaas bestuurders onder druk. Ons het die stappe geneem om te voldoen, maar die geriewe akkommodeer ons nie,” sê hy.
Nekundi het egter voet by stuk gehou dat geen verdere verlengings toegestaan sou word nie.
“Dis nie hoe dit werk nie. Ons stel dit al sedert verlede jaar April uit. As ons dit nou verleng, sal daar steeds diegene wees wat nie betyds sal aansoek doen nie,” sê Nekundi. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie