NamRA skryf boetes van N$46,6 mjd. in een jaar af
In 2024-’25 was daar ’n skerp toename in belastingboetes wat onder die regering se program vir belastingamnestie afgeskryf is, tesame met ’n sterker invordering van inkomste gedurende dié boekjaar.
Dit volgens die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) se 2024-’25-jaarverslag.
NamRA het boetes van N$46,6 miljard afgeskryf en rente van N$2,8 miljard omgekeer gedurende die tydperk onder oorsig, luidens die verslag.
Die program het N$2,5 miljard in werklike belastinginkomste van deelnemende belastingbetalers gegenereer. Dit dui op ’n beduidende toename in vergelyking met die vorige boekjaar.
In 2023-’24 het NamRA boetes van N$17,1 miljard wat afgeskryf en rente van N$797 miljoen wat omgekeer is, gerapporteer, met ’n totaal van N$2,9 miljard wat ingevorder is.
Die jongste syfers toon dat die waarde van boetes wat afgeskryf is, binne ’n jaar byna verdriedubbel het.
Gedurende die program vir belastingamnestie, wat ingestel is om belastingbetalers aan te moedig om hul uitstaande belasting te vereffen, het 81 796 individue geregistreer. Dié inisiatief is tot Oktober 2026 verleng.
Terselfdertyd het NamRA ’n verbetering in sy inkomsteprestasie gerapporteer. Die agentskap het teen 31 Maart 2025 altesaam N$88,5 miljard in netto inkomste ingevorder, wat sy teiken van N$85,3 miljard oorskry het. Dit verteenwoordig 103% van die jaarlikse teiken en ’n toename van 15% in vergelyking met die vorige boekjaar.
Die verslag skryf die hoër invorderings toe aan verbeterde nakomingsmaatreëls, ’n uitgebreide belastingbasis en verskerpte afdwinging oor binnelandse belasting sowel as doeane en aksyns.
Die verslag beklemtoon ook voortgesette regstappe met betrekking tot belastingnakoming. Gedurende die boekjaar is 28 sake in die hoërhof aanhangig gemaak wat belastinggeskille behels. Sewe hiervan is ten gunste van NamRA beslis en twee sake teen die agentskap, terwyl die res steeds hangend of teruggetrek is.
Daarbenewens het verskeie uitsprake van die belastingtribunaal NamRA se standpunt oor die nakoming van belastingwetgewing gehandhaaf, wat die agentskap se benadering oor die afdwinging van wette, regulasies en standaarde versterk.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie