Minister tree in bres vir sewesitplekvoertuie

Augetto Graig
Die minister van werke en vervoer dring daarop aan dat diensverskaffers van openbare vervoer met sewesitplekvoertuie met waardigheid en respek behandel moet word.

Minister Veikko Nekundi het vroeër vandeesweek voorvalle oor die Paasnaweek van beweerde teistering van bestuurders van dié goedkoper langafstand-vervoerdiensverskaffers ten sterkste veroordeel.

Hy het daarop gewys dat verkeersbeamptes deur hom aangestel word, en verwyder kan word as hulle nie die voorneme van die onlangs aangekondigde hervorming van openbare vervoerpermitte handhaaf nie.

Nekundi het reeds op 9 April die parlement ingelig dat die geldigheid van openbare vervoerpermitte tot twee jaar verkort word.

Voorheen is die permitte vir ’n onbepaalde tydperk uitgereik en volgens Nekundi was die stelsel oop vir misbruik, veral deur permithouers wat nie meer padwaardige voertuie gehad het nie en bloot die gebruik van permitte verhuur het.

“Die huidige toekenningsregime is gemanipuleer om die mees benadeeldes en onderdruktes verder te benadeel.

“Dit deur permitte aan ’n paar individue sonder voertuie uit te reik en die permitte aan taxi-eienaars te verhuur, vir tariewe wat wissel tussen N$500 en N$1 000 per maand, terwyl eienaarsaansoeke afgekeur is of nooit op gereageer is nie, ondanks verskeie opvolgpogings en appèlle,” het hy gesê.

Saam met die Vervoerraad en die Paaieowerheid (RA) het die ministerie dus besluit permitte sal voortaan net aan persone met voertuie vir gebruik in openbare vervoer uitgereik word, in die naam van die voertuigeienaar en vir die betrokke voertuig, brei hy uit.

“Permitte sal nie meer as ’n handelskommoditeit gebruik kan word nie,” het die minister gesê.

Houers van permitte wat vir ’n onbepaalde tydperk geldig is, het tot 30 September om die nuwe tweejaarpermitte te bekom, nadat die wysiging van die Wet op Vervoer van 1977 voltooi is.

Eienaars wat permitte huur kan tot 30 September voortgaan, terwyl hulle vir nuwe permitte wag. Geldige voertuiglisensies, registrasie en identiteitsdokumentasie moet saam met die oorspronklike permitte ingedien word.

Die oorgangsproses behoort tussen vier en vyf maande te duur, volgens Nekundi.



VOLLE SITPLEKKAPASITEIT

Die minister het Dinsdag uitgebrei dat operateurs van sewesitplekvoertuie toegelaat word om die voertuig se volle sitplekkapasiteit te benut wanneer mense tussen dorpe vervoer word, hoewel bagasie in sleepwaens gepak moet word.

“As minister van werke en vervoer het ek die mag om die registrasie van enige verkeersbeampte op te skort of te herroep,” sê hy.

Die minister het sy misnoeë uitgespreek oor voorvalle oor die afgelope Paasnaweek waar bestuurders van sewesitplekvoertuie beboet en hul permitte teruggetrek is.

“Ons kan nie net links, regs en senter boetes uitreik nie, ons moet ook waarskuwings gee,” sê hy.

Hy sê verder “dit is ontmoedigend om te sien dat boetes van N$4 000 uitgereik word aan iemand wat net N$1 000 verdien”.

“Ons wetgewing is nie ’n basis om te straf en te straf en te straf nie.”

Hy het die permitte weer herstel en ook beperkings op die aantal passasiers opgehef sodat alle sitplekke gebruik kan word.

Die minister het ook gerugte dat hy self talle sewesitplekvoertuie besit, verwerp en dit duidelik gemaak dat hy geen voertuig besit wat by openbare vervoer betrokke is nie.

Hy sê ook die beskuldiging dat sewesitplekbestuurders onveilig bestuur, skynheilig is.

“Dit is ekonomiese skynheiligheid, politieke skynheiligheid, skynheiligheid van die hoogste vlak,” sê hy.

“Dit gaan oor menslike gedrag. Dit is nalatigheid en wangedrag van individue. Iemand wat op ’n blinde hoogte verbygaan, is nie net ’n sewesitplekbestuurder nie, maar enigiemand.

“Dit is skynheiligheid. ’n Ongeluk kan deur enigiemand veroorsaak word. Ons gesamentlike plig is om elke persoon agter die stuur te onderrig, om die padreëls te respekteer en die lewe te respekteer,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer