LP: Is Namibia Air se nooiensvlug in Desember moontlik?
Die ministerie van werke en vervoer het tot dusver stilgebly oor sy verbintenis dat die nuwe nasionale lugredery, Namibia Air, sy eerste binnelandse vlug in Desember sal uitvoer.
Met net twee maande oor is daar geen openbare bevestiging dat die voorgestelde lugredery die regulatoriese en operasionele vereistes wat nodig is sy vlerke te sprei, reeds verseker het nie.
Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het hom herhaaldelik daartoe verbind dat Namibia Air se eerste binnelandse vlug in Desember 2026 sal plaasvind, wat in Augustus weer bevestig is toe die lugredery sy lugdienslisensie ontvang het.
Die sperdatum kom egter vinnig nader, sonder enige duidelike aanduiding van die ministerie dat die lugredery op koers is om dit te bereik.
Die uitvoerende direkteur in die ministerie, Jonas Sheelongo, het verlede week aan Republikein gesê die ministerie sou hom amptelik oor die saak uitspreek, voordat hy verdere vrae na sy skakelafdeling verwys het, wat teen druktyd nog nie op die vrae gereageer het nie.
Die stilte kom terwyl Namibia Air steeds regulatoriese sleutelgoedkeurings moet bekom, insluitend ’n lugoperateursertifikaat (AOC), voordat dit kommersiële bedrywighede kan begin.
LISENSIE VERSEKER
Die lugredery is in Augustus deur die Vervoerkommissie van Namibië (NTC) ’n lugdienslisensie toegestaan. Die NTC-lisensie magtig Namibia Air om geskeduleerde lugdienste op binnelandse en streekroetes te lewer, onderhewig aan die nakoming van verdere regulatoriese vereistes wat kommersiële lugvaart beheer.
Die lisensie van vyf jaar was ’n belangrike stap om die voorgestelde lugredery van die grond af te kry, maar dit magtig nie op sigself Namibia Air om kommersiële vlugte te begin nie.
Die parlementslid van die Independent Patriots for Change (IPC) en skaduminister van werke en vervoer, Nelson Kalangula, het gesê die lugdienslisensie moet nie verwar word met die AOC nie, wat Namibia Air steeds benodig voordat dit kommersieel kan vlieg nie.
Kalangula het gesê die AOC-proses kan tussen ses maande en ’n jaar duur en het gewaarsku teen die oorhaastige afhandeling daarvan om die Desember-sperdatum te haal.
“Ek het aangedui dat daar geen manier is dat dit gestalte sal kry en die vliegtuig teen die eerste week van Desember in die lug sal wees nie,” het hy gesê.
Hy het gesê die Namibiese Burgerlugvaartowerheid (NCAA) moet nog by die sertifiseringsproses betrek word en dat verskeie vereistes aangespreek moet word voordat die lugredery kommersiële bedrywighede kan begin.
Kalangula het gesê hy is ingelig dat verteenwoordigers van Namibia Air die NCAA genader het in ’n poging om die AOC-proses te versnel – iets wat hy as ’n moontlike kompromie van lugvaartveiligheid beskryf het.
VRAE OOR GEREEDHEID
Kalangula het ook die lugredery se operasionele gereedheid bevraagteken en gesê verskeie basiese vereistes blyk nog uitstaande te wees.
“Tot nou toe is daar egter geen vliegtuie wat gekoop is nie,” het hy gesê.
“Vlieëniers moet opgelei word,” het hy bygevoeg, terwyl hy ook op die behoefte aan werwing gewys het.
Hy het verder die gebrek aan openbare inligting oor die lugredery se struktuur bevraagteken, insluitend waar sy kantore geleë is en wie vir sy bedrywighede verantwoordelik sal wees.
“Ons weet tot nou toe nie waar Namibia Air se kantore is nie,” het hy gesê.
“Ons weet ook nie wie die verantwoordelike persoon vir daardie lugredery sal wees nie.” Kalangula het ook die regering se betrokkenheid met Ethiopian Airlines bevraagteken en gesê hy wil weet waarom die regering so ’n betrokkenheid sou nastreef nadat ’n haalbaarheidstudie glo N$20 miljoen gekos het. Hy het gesê hy het verlede week ’n dringende mondelinge vraag oor die kwessie in die parlement gevra, maar beweer die minister kon nie die doel van die haalbaarheidstudie van N$20 miljoen verduidelik nie.
Kalangula het verder die reëling bevraagteken waarvolgens Namibia Air lugvaartgoedkeuring probeer bekom terwyl die NCAA onder die vervoerministerie val.
Hy het gesê dit wek kommer oor ’n moontlike institusionele konflik, omdat die ministerie verantwoordelik is vir die owerheid wat toesig hou oor die sertifiseringsproses, terwyl dit terselfdertyd die totstandkoming van die voorgestelde lugredery dryf.
“Ek het ’n skriftelike vraag gevra, hoe hulle self vir ’n lisensie aansoek doen wanneer hulle die bewaarders van die owerheid is,” het hy gesê. “Dit is soos om vir jouself ’n lisensie aan te vra,” het hy bygevoeg. Kalangula het dit as die brood aan albei kante botter beskryf het, asook ’n moontlike konflik wat voortspruit uit die ministerie se rol in beide die voorgestelde lugredery en die regulatoriese omgewing waarbinne dit goedkeuring moet verkry.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie