Hoofstad soek 20 nuwe busse, elektriese vloot
Stad Windhoek beplan om sy munisipale busvloot met 20 busse uit te brei en ondersoek terselfdertyd groener vervoeropsies, insluitend elektriese busse.
Die uitvoering van dié planne hang egter af van die verkryging van volhoubare befondsing en subsidies van die sentrale regering, het Moses Matyayi, uitvoerende hoof van Stad Windhoek (CoW), gesê.
In ’n onderhoud met Republikein het Matyayi gesê die munisipaliteit werk aan ’n program om sy busdiens te herbou en uit te brei. Die fokus is op meer beskikbare busse, beter instandhouding en groter dekking van diensroetes.
ie plan sluit die aankoop van 20 bykomende busse in, asook die moontlike bekendstelling van elektriese busse, verbeterde vlootbestuur en die uitbreiding van die busdiens na meer gemeenskappe.
“Die langertermyn-doelwit is ’n betroubare openbare vervoernetwerk wat gemeenskappe oraloor Windhoek bedien, veral inwoners sonder toegang tot privaat voertuie,” het Matyayi gesê.
BEFONDSING NOODSAAKLIK
CoW is in gesprek met die regering oor ’n volhoubare meganisme vir befondsing en subsidies om openbare vervoer te ondersteun. Volgens Matyayi het die gesprekke reeds ’n gevorderde stadium bereik.
“Besprekings is in ’n gevorderde stadium met sekere verbintenisse wat reeds gemaak is,” het hy gesê.
Die opsies wat oorweeg word, sluit nasionale kapitaalbefondsing en ’n toegewyde befondsingsmeganisme vir openbare vervoer in, aangevul deur inkomste wat die stad self genereer.
Hoewel voorlopige studies afgehandel is, moet verdere uitvoerbaarheidstudies oor belangrike projekte vir vervoerinfrastruktuur nog begin.
Matyayi het gesê dié projekte verg aansienlike kapitaalbelegging en sal van beskikbare befondsing en voortgesette samewerking met die regering afhang.
“Ons moet projekte vinniger van beplanning na implementering uitvoer,” het hy gesê.
Hy het versnelde dienslewering as een van sy prioriteite vir die res van sy ampstermyn geïdentifiseer.
Die voorgestelde uitbreiding is daarop gemik om vervoer vir inwoners te verbeter wat op munisipale busse staatmaak om by die werk, skole en ander noodsaaklike dienste uit te kom.
NUWE ROETES
Benewens die uitbreiding van die busvloot beplan CoW ook vervoergeriewe om verbindings tussen verskillende vervoermiddels te verbeter. Dit sluit ’n voorgestelde hoofvervoerfasiliteit in Windhoek se sentrale sakekern in. Die fasiliteit sal munisipale busse, taxi’s en langafstand-passasiersvervoer bymekaarbring, met ruimte vir moontlike toekomstige spoorverbindings.
CoW sê daar is nog nie ’n formele ooreenkoms oor openbare vervoerfinansiering gesluit nie, maar dat vordering gemaak word.
“Ons is bemoedig deur die vordering wat tot dusver gemaak is en sien uit daarna om verdere ontwikkelings te kommunikeer sodra die vereiste reëlings gefinaliseer is,” het Matyayi gesê.
Hy het bygevoeg dat die hoofstad sal voortgaan om van die betrokke owerhede die nodige ondersteuning te bekom en ’n duidelike pad na die uitvoering van die planne te bepaal.
Die voorgestelde raamwerk vir befondsing sal na verwagting openbare vervoerbedrywighede ondersteun, terwyl CoW ook nasionale kapitaalbelegging vir prioriteitsprojekte wil bekom. Dit sluit die uitbreiding van die busvloot en passasiersgeriewe in.
Die uitbreiding van busroetes is ook deel van die planne.
Volgens Matyayi onderneem CoW ’n omvattende hersiening van sy openbare vervoerdiens om betroubaarheid, bekostigbaarheid, toeganklikheid en doeltreffendheid te verbeter.
Die proses behels ’n beoordeling van bestaande roetes en skedules, die identifisering van gemeenskappe wat onvoldoende bedien word, en die ondersoek van moontlikhede om die busdiens geleidelik uit te brei.
Volgens Windhoek Express het die stad se busse verlede jaar tot Augustus 2025 altesaam 1,6 miljoen passasiers op 30 roetes vervoer.
Republikein het in Julie 2025 berig dat Windhoek se busvloot uit 56 busse bestaan het, waarvan slegs 22 destyds in werking was.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie