Hommeltuie wemel weer in die nagruim

Vlieg snags oor Suide-plase
Die area van voorkoms het volgens 'n boer nou net drasties vergroot en kom dit ook nou meer gereeld voor tot so ver as Rosh Pinah en Goageb, asook in die dieper Namib tot duskunt die parkgrens.
Francoise Steynberg
Hommeltuie word weer snags toenemend oor plase in die Suide opgemerk met boere wat bekommerd is oor wildstropery, veediefstal en die skending van hul privaatheid.

Plaaseienaar Elize Cilliers wat veral bekendstaan vir haar Appaloosa-perdestoet, het aan Network Media Hub (NMH) gesê die hommeltuie vlieg snags onwettig sonder haar toestemming oor haar plaas Stokkiesdraai by die Swartrand naby Maltahöhe in die Hardapstreek.

Die hommeltuie is op die volgende datums en tye opgemerk: Op 4 Desember om 23:43, 1 Januarie om 00:40, 2 Januarie om 23:24, 4 Januarie om 01:32, 6 Januarie om 23:51 en 7 Januarie tussen 00:16 en 01:52.

“Op 4 Desember het ek gaan ry en kyk, maar ongelukkig het ek my foon by die huis vergeet. Ek het gesien hoe laag hulle vlieg en een het 500 meter van my af opgestyg,” het Cilliers gesê.

"My dogter Lindie wat ook boer, moet nou snags buite spandeer om te waak oor ons wild en perde, want jy weet nie waarom hulle daar vlieg en of hulle wild wil stroop of perde wil steel nie.” Lindie het video's van die hommeltuie geneem wat aan NMH gestuur is.

“Die hommeltuie hou ‘n gevaar vir my diere in. Wat as ‘n perd van my skrik vir die hommeltuig en word beseer?”

Sy het die voorvalle van die hommeltuie verlede week aan Manase Misika van die Namibië Burgerlike Lugvaartowerheid (NCAA) in die ministerie van werke en vervoer gerapporteer. Misika het aan haar gesê sy bestuurder is eers vandag terug op kantoor.

NMH het ook Vrydag navraag by die woordvoerder van NCAA, Nelson Ashipala, gedoen wat dit na sy kollegas by RPAS (Remotely Piloted Aircraft Systems) verwys het.

Cilliers het gesê sy is besig om verklarings voor te berei om dit vandeesweek by die Namibiese polisie aan te meld.

Stokkiesdraai was een van die plase in die Suide wat die ergste onder die droogte deurgeloop het en Cilliers kon ook nie haar perde in die buiteland verkoop toe entstowwe teen perdesiekte nie beskikbaar was nie. Boonop voer sy ’n verbete stryd teen kanker.

In Julie en Augustus verlede jaar was boere van Helmeringhausen geteister deur hommeltuie wat snags oor plase sonder hul toestemming vlieg.

NMH het destyds oor die voorvalle berig en vir NCAA gevra of permitaansoeke vir die vlieg van hommeltuie oor die omgewing gedoen is. Ashipala het toe gesê slegs as die name van die aansoekers verskaf word, kan dit op die databasis gesoek word. NMH het ‘n naam van ’n vroulike Namibiese mynboukonsultant wat na bewering aansoek vir ’n hommeltuigpermit gedoen het, asook ‘n mynbou-eksplorasiemaatskappy, aan die NCAA verskaf om in die databasis in te voer, maar het na herhaalde navrae geen terugvoer ontvang nie.

Ashipala het bevestig individue of entiteite wat hommeltuie binne die Namibiese lugruim bedryf, moet operasionele goedkeuring van NCAA verkry in ooreenstemming met nasionale lugvaartregulasies. Dit sluit spesifieke gebruiksvoorwaardes, goedgekeurde operasionele gebiede en veiligheidsvereistes in. Daar is verskeie maatskappye wat toestemming by NCAA het om grootskaalse lug- en hommeltuigopnames in Namibië te doen.

"Ongelukkig is daar tans geen toegewyde stelsel in plek om ongemagtigde hommeltuie wat in die Namibiese lugruim bedryf word, op te spoor, na te spoor en te identifiseer nie,” het hy gesê.

Adelheid von Wielligh van die Gemeenskapspolisiëring Misdaadvoorkomingsforum het bevestig dat hommeltuie weer erg bedrywig is by die Swartrand. "Die hommeltuie hou net nie op nie en daar is geen terugvoer oor die inbreuk op privaatheid oor ons plase nie."

Die voorsitter van Konkiep Farmers Watch (KFW) en boer in die Helmeringhausen-omgewing, Malcolm Campbell, het Vrydag aan NMH gesê die hommeltuie vlieg nog steeds in hul omgewing.

'GEBIED VERGROOT DRASTIES'

“Dit het nou bietjie minder geraak by ons, maar hulle kom nog voor. Die area van voorkoms het nou net drasties vergroot en word dit meer gereeld op die Swartrand na Gibeon se kant toe opgemerk, soos byvoorbeeld by Elize-hulle.

“Verder kom dit ook nou meer gereeld voor tot so ver as Rosh Pinah en Goageb, asook in die dieper Namib tot duskunt die parkgrens.”

Campbell sê die voorkoms van hommeltuie bly snags van omstreeks 21:30 tot 05:00.

“Dis groot hommeltuie met lang battery-ure en word verseker van ver af beheer ver buite as die normale hommeltuie se 7 km-radius se reikafstand.

Hy vermoed iemand groter as normale individue sit hieragter: “Die soort hommeltuie is nie wat elke Jan Rap en sy maat kan bekostig en vlieg nie.

“Dit is moeilik om te glo dat die regering glad nie bewus is hiervan nie. Iemand wat al so lank onverstoord voortgaan met die hommeltuie se vlieg oor so groot gebied en nie deur wetstoepassers al vasgetrap is nie, laat mens wonder. Ons regering weet al lankal van die hommeltuie via mediaberigte.”

Campbell voeg by “ons privaatheid is beslis nie meer ons privaatheid nie, lankal nie meer nie” en vra: “Is dit dalk die nuwe toekoms hoe landbou in Namibië deur wie en wat dopgehou gaan word?”

MELD AAN BY NCAA

Om die NCAA te help om patrone te identifiseer en die nodige opvolgaksie te neem en ondersoeke te doen, word versoek dat enige verslae soveel as moontlik van die volgende inligting insluit:

• Datum en tyd van die voorval;

• Presiese ligging;

• Tipe of voorkoms van die hommeltuig (grootte, kleur, klank, hoogte);

• Moontlike ligging van die operateur of enige individue wat die hommeltuig beheer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-02-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer