Daar's lig in die TransNamib-tonnel
TransNamib berei voor om na die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) terug te keer vir die hervatting van die aankoop van nuwe lokomotiewe. Volgens die uitvoerende hoof Desmond van Jaarsveld is die finansiering van die broodnodige hernuwing van die vloot verseker.
Van Jaarsveld het gesê TransNamib het finansiële ooreenkomste met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) en die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) bereik om nuwe lokomotiewe aan te skaf, nadat die vorige verkrygingsproses gekanselleer is.
“Julle is almal bewus van die tender vir die lokomotiewe wat verlede jaar gekanselleer is. Ons is amper gereed om terug te gaan na die CPBN. Die finansiering is verseker. Ons het ‘n finansiële ooreenkoms met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en die DBN bereik om daardie nuwe lokomotiewe, wat broodnodig is, aan te skaf,” het Van Jaarsveld Vrydag tydens 'n gesprek tussen uitvoerende hoofde en president Netumbo Nandi-Ndaitwah gesê.
Dit volg op die kansellasie van 'n beplande verkryging van 23 lokomotiewe teen ‘n koste van N$1,7 miljard van 'n enkelbronvervaardiger.
Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het vroeër gesê die verkryging is weens geopolitieke risiko's en 'n gebrek aan mededinging gestaak. Die regering het TransNamib gevolglik opdrag gegee om die net wyer vir verkrygingsopsies oop te gooi.
Die verkryging van lokomotiewe van N$1,7 miljard vorm deel van 'n lening van N$2,6 miljard wat TransNamib in Julie 2024 van DBN en DBSA verkry het. TransNamib het ook planne aangekondig om N$211 miljoen aan die opknapping van sewe bestaande lokomotiewe te bestee.
Van Jaarsveld het gesê die behoefte aan nuwe lokomotiewe is veral dringend weens die ouderdom van TransNamib se vloot.
“Waarom het ons nuwe lokomotiewe nodig? Tagtig persent van TransNamib se vloot is ouer as 50 jaar,” het hy gesê.
“Dit is die werklikheid van wat ons het en waarmee ons moet werk om die huidige vrag te vervoer.”
Volgens hom bly die verouderende infrastruktuur en rollende materiaal die grootste struikelblokke waarmee die spoorwegoperateur te kampe het.
“Nommer een is die verouderende infrastruktuur. En met infrastruktuur verwys ek ook na die rollende materiaal – die lokomotiewe. Jy kan nie die een sonder die ander hê nie,” het Van Jaarsveld gesê.
Hy het die vordering met die rehabilitasie van spoorweginfrastruktuur, veral die voltooiing van die Walvisbaai-Kranzberg-gedeelte verwelkom.
“Die suksesvolle voltooiing van die Walvisbaai-Kranzberg-gedeelte is uitstekend. My treinbestuurders noem dit eintlik ‘die teerpad’, dit is so veilig en lekker om op te reis,” het hy gesê.
Volgens Van Jaarsveld is die volgende prioriteit vir infrastruktuur die Kranzberg-Otjiwarongo-roete, terwyl die roetes na Gobabis en die verbinding tussen Otavi en Grootfontein ook aandag vereis.
Van Jaarsveld het gesê die Grootfontein-verbinding is veral belangrik omdat TransNamib saam met die korridorgroep en Namport werk aan 'n voorgestelde droë hawe wat vrag van Zambië kan hanteer.
Die plan sal verseker dat dat vrag met behulp van intermodale vervoer in Grootfontein oorgelaai en na spoor oorgeplaas word, wat die aantal vragmotors op die paaie verminder.
“Ons ding nie teen die vragmotors mee nie,” het Van Jaarsveld gesê.
Hy het verwys na die onlangse bekendstelling van 'n marmervervoeroperasie in Karibib as 'n voorbeeld van hoe spoorweg druk op die padnetwerk kan verminder.
“In plaas daarvan om dit per pad te vervoer, sal ons dit per spoor neem. Deur ongeveer 700 vragmotorritte per maand uit te skakel – dis ongeveer 20 tot 30 per dag – sal ons al daardie vrag terug op spoor skuif,” het hy gesê.
Ten spyte van die ontwikkelinge, het Van Jaarsveld gesê TransNamib benodig steeds staatsondersteuning.
Volgens hom is die behoefte aan finansiële ondersteuning duidelik uiteengesit in TransNamib se volgende vyfjaarplan wat deur die ministerie van finansies ingedien en goedgekeur is.
Van Jaarsveld het ook kommersiële geleenthede uitgelig wat TransNamib tans weens sy tekort aan rollende voorraad nie kan benut nie.
“Ons het die besighede daar buite. Ek het vandag agt lokomotiewe nodig om mangaan van die Noord-Kaap na die hawe van Walvisbaai te vervoer,” het hy gesê.
“Dis besigheid wat ons nodig het, maar ek kan dit nie aanvaar nie, want ek het nie die rollende voorraad nie.” - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie