Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi. FOTO ARGIEF
Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi. FOTO ARGIEF

Bestuurders kry N$15 miljoen se voertuie

Van Range Rover tot Amarok
Net ’n administratiewe fooi van N$5 000 was nodig om die voertuig op sy nuwe eienaar se naam oor te dra.
Sonja Smith

’n Ondersoek deur die ministerie van werke en vervoer wys 19 uitvoerende beamptes en bestuurders het voordeel getrek uit die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) se omstrede voertuigskema deur maatskappyvoertuie wat teen ’n gesamentlike koste van N$15 miljoen aangekoop is.

Dit volg nadat die Republikein verlede week berig het die bestuurders het teen ’n oordragfooi van net N$5 000 eienaarskap van die voertuie oorgeneem, nadat die skema in 2021 afgeskaf is. 

Die ondersoekverslag waarvan Republikein ’n kopie het en 7 April 2026 gedateer is, bevat ’n lys van 19 begunstigdes, identifiseer die voertuie wat aangekoop is, die verkrygingskoste asook die bedrae wat die begunstigdes betaal het om die voertuie op hul naam oor te dra. 

Onder die duurste voertuie wat gelys is, is ’n Toyota Land Cruiser wat toegeken is aan die NAC se uitvoerende hoof Bisey/Uirab, wat in April 2019 vir N$1,39 miljoen aangekoop is.

Die voormalige hoofbestuurder van kommersiële dienste Toska Sem, het ’n Mercedes-Benz GLC350 ontvang wat vir N$900 000 aangekoop is, terwyl die uitvoerende hoof van menslike hulpbronne Josephine Soroses, ’n Range Rover Evoque ontvang het wat vir N$897 500 aangekoop is.

’n Toyota Land Cruiser VX V8 wat vir N$899 949 aangekoop is, is aan die hoofregsadviseur Lot Haifidi toegeken, terwyl die uitvoerende hoof vir infrastruktuurontwikkeling en batesorg, Ralph !Gaoseb, en die senior bestuurder Leonard Shipuata, elk ’n Volkswagen Amarok 3.0 TDI ontvang het wat vir onderskeidelik N$863 359 en N$855 000 aangekoop is.

Ander voertuie wat in die ondersoek gelys word, sluit in Verengai Ruswa se Jeep Grand Cherokee teen N$893 210, Toyota Land Cruisers en Prado, Ford Everest, Toyota Hilux en Isuzu KB300 wat onderskeidelik aan Sem Katoma, Jason Kweyo, Petrus Shipale, Justin Strauss, Alex Hanghuwo, Christian Faure, Angela Sibalatani en ander toegeken is.

Die NAC het tussen 2016 en 2019 sowat N$14,7 miljoen vir die 19 voertuie betaal. Die voertuigskema het die onderwerp van ’n ministeriële ondersoek geword nadat kommer uitgespreek is oor die verkoop van maatskappyvoertuie en die omstandighede waaronder eienaarskap aan begunstigdes oorgedra is.

Die bevindinge wat wat deur die ministerie se hoof- interne ouditeur Lineekela Joseph saamgestel is, dui aan die uitvoerende beamptes en bestuurders is toegelaat om eienaarskap van die voertuie oor te neem, nadat dit die einde van hul voorgeskrewe gebruikstydperk bereik het.  

Volgens die verslag is die waardevermindering van N$5 000 bepaal bepaal sonder ’n rekeningkundige beleid. Ook het die NAC nie die tesourie se goedkeuring gevra om die voertuie ingevolge artikel 18 van die wet op staatsfinansies oor te dra nie. 

Kommer is ook uitgespreek oor wat ondersoekers beskryf as ’n wanvoorstelling deur die beëindiging van dienste te gebruik om maatskappymotorvoertuie se waarde vir oordrag te verminder.

/Uirab het volgens die verslag op 21 September 2021 in ’n versoek aan die direksie goedkeuring gevra om die NAC-voertuie en aankoopwaardes van voertuie in lyn vir waardevermindering te bring. Die raad se komitee vir menslike hulpbronne het ook goedkeuring van ’n verhoging van 5% aanbeveel vir werknemers op die Paterson-skaal D1 tot F se omskakelingswaardes wat deur PricewaterhouseCoopers (PwC) Namibia voorgestel is. Die goedkeuring moes met ingang 1 April 2022 van krag wees.

Die NAC het aan die ministerie verduidelik die N$5 000 wat deur bestuurders betaal is, was vir administratiewe fooie wat verband hou met die oordrag van eienaarskap nadat die voertuigskema afgeskaf is.

“Die bedrag was bedoel om voorsiening te maak vir administratiewe koste van die oordrag van eienaarskap aan relevante werknemers. Dit is nie ’n waardevermindering of ’n aankoopprys nie,” het die NAC gesê.

Die semi-staatsondereming het aangevoer bestuurders het kontraktuele regte op voertuigvoordele ingevolge hul dienskontrakte opgebou. Oordragte van eienaarskap het deel gevorm van ’n onderhandelde proses ná die afskaffing van die voertuigskema in 2021.

NAC het ook volgehou dat die voertuie se waarde ten volle in ooreenstemming met toepaslike rekeningkundige standaarde verminder het. Met die uitsondering van twee voertuie was die res ten tye van die oordragte vyf jaar oud. 

“Alle voertuie, behalwe twee, was vyf jaar oud en se waarde het ten volle verminder. Die verkoopswaarde van hierdie voertuie was N$1 elk toe hulle van die hand gesit is,” het die NAC gesê.

Die maatskappy se reaksie is op 19 Mei 2026 aan die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, voorgelê.

Van die 19 voertuie is vier in 2016 vir N$3,1 miljoen aangekoop, vyf in 2017 vir N$3,5 miljoen, vier in 2018 vir N$2,5 miljoen en ses in 2019 vir N$5,6 miljoen aangekoop.

Die voertuie is tussen 2023 en 2024 in die name van die uitvoerende beamptes oorgedra nadat elk N$5 000 betaal het. 

[email protected]


Die eienaars en hul voertuie is:

Bisey /Uirab: Toyota Land Cruiser - N$1,3 miljoen

Toska Sem: Mercedes-Benz GLC350 - N$900 000

Fabianus Sindimba: Toyota Hilux GD6 - N$556 498

Petrus Shipale: Ford Everest 3.2 - N$697 498

Titus Shuungula: Toyota Land Cruiser 4.2D - N$750 475

Verengai Ruswa: Jeep Grand Cherokee - N$893 210

Sem Katoma: Toyota Land Cruiser VX V8 Prado - N$803 818

Angela Sibalatani: Toyota Land Cruiser 4.5 LDV - N$660 387

Bernhard Simvula: Toyota Land Cruiser - N$735 480

Christian Faure: Volvo XC60 - N$848 237

Judtine Strauss: Toyota Land Cruiser - N$600 000

Josephine Soroses: Range Rover Evoque - N$897 500

Lot Haifidi: Toyota Land Cruiser VX V8 - N$899 949

Norman Pule: Toyota Hilux 3.0 - N$379 296

Alex Hanghuwo: Toyota Land Cruiser VX V8-enkelkajuit - N$774 834

Erastus Shoombe: Toyota 2.8 GD6 - N$581 416

Jason Kweyo: Isuzu KB300 - N$500 000

Leonard Shipuata: VW Amarok 3.0 TDI - N$863,358

Ralph !Gaoseb: VW Amarok 3.0 TDI - N$850 000



Kommentaar

Republikein 2026-08-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer