Namibiu00EBrs met brandstofhouers by die Angolese grens. Foto argief
Namibiu00EBrs met brandstofhouers by die Angolese grens. Foto argief

Angola kan goedkoper brandstof bring

Debat op wet op petroleumprodukte
Met pomppryse wat byt en Namibiese werksgeleenthede op die spel, was die saak om Angolese brandstofinvoere te formaliseer, nog nooit sterker nie.
Wonder Guchu

Elke liter brandstof wat in Namibië verbruik word, dra steeds die gewig van besluite wat ver buite sy grense geneem word.

Die gevolg is stygende pomppryse en vervoerkoste en ’n stadige knyp op huishoudings en besighede. En as dit nie in toom gehou word nie gaan reuse-werksverliese volg.

Tog lê Angola net oor die noordelike grens, ’n Opec-lid met van die vasteland se goedkoopste brandstof.

Die teenstrydigheid is dat Namibië oor die hervorming van sy brandstofwet praat – maar nie tekorte aanspreek nie.

Die huidige stelsel is geanker in die Wet op Petroleumprodukte en Energie 13 van 1990, opgestel in ’n tyd toe Namibië se primêre bekommernis voorsieningsekerheid was, nie buigsaamheid in verkryging nie. 

Die wet gee die minister omvattende bevoegdhede om die aankoop, verkoop, voorsiening, verkryging, berging en vervoer van petroleumprodukte te reguleer en, waar nodig, te verbied. 

Daarvolgens mag slegs gelisensieerde groothandelaars brandstof in grootmaat invoer, onderhewig aan permitte en regulatoriese toesig en alle invoere moet aan goedgekeurde spesifikasies voldoen.

Daardie struktuur het ’n streng bestuurde stelsel opgelewer wat volgens kusinvoere en langdurige voorsieningsreëlings georganiseer is. Dit het ’n stabiele voorsiening gelewer terwyl dit inkomste-invordering en verbruikerstandaarde beskerm. 

Nou het die wêreld verander.


KOMMER OOR GEHALTE

Namibiese owerhede het hul standpunt oor Angolese brandstof konsekwent op grond van gehaltebeheer verdedig en volgehou dat beheermaatreëls nodig is om versoenbaarheid met moderne enjins te verseker, verbruikers te beskerm en omgewingstandaarde te handhaaf.

In 2022 het die voormalige direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissaris, Obeth Kandjoze, aan ’n plaaslike weekblad gesê dat die invoer van brandstof uit Angola nie noodwendig koste sou verlaag nie en bykomende verwerking kan vereis. Hoewel dit nie presies duidelik is hoeveel dit sou kos om ngungula – onwettig gesmokkelde oorgrens brandstof – tot standaard te bring nie, dui die nabyheid en gewaarborgde beskikbaarheid daarop dat dit nie veel sou kos nie.

In November 2018 het die voormalige minister van myne en energie, Tom Alweendo, gewaarsku dat ngungula die staat van inkomste ontneem, openbare veiligheid in gedrang bring en ’n omgewingsrisiko inhou. 

“As dit nie getakel word nie, het die verkoop van gesmokkelde brandstof teen goedkoper pryse ’n hoë potensiaal om bestaande vulstasie-eienaars uit die ekonomie te dryf,” het hy gesê.

Sy destydse adjunk, Kornelia Shilunga, het opgemerk dat Angola diesel teen 2 000 dele per miljoen (dpm) gebruik, vergeleke met Namibië se 50 dpm- en 10 dpm-standaarde.


GROTER PRENTJIE

Wat Shilunga gesê het, is nie ’n probleem in vergelyking met wat kan gebeur as brandstofpryse aanhou styg en maatskappye gedwing word om werknemers huis toe te stuur nie.

In Maart het die ministerie van myne, energie en nywerheidsontwikkelilng se uitvoerende direkteur, Moses Pakote, aan ’n plaaslike dagblad gesê dat die stelsel ontwerp is om ongereguleerde brandstof uit die formele mark te hou en steun op lisensiëringsbeheer, grenshandhawing, inspeksie en die neem van monsters en samewerking tussen agentskappe.

Die parlement kan al hierdie bekommernisse aanspreek in die voortgesette debat oor die wysiging van die petroleumwet – om mense teen stygende pryse te beskerm, eerder as om uitsluitlik op die Upstream-petroleum-eenheid te fokus. 

Die wysigings behoort ’n beheerde opening te skep, nie ’n gratis-vir-almal nie, sonder om die gereguleerde stelsel waarop gelisensieerde maatskappye staatmaak, te laat ineenstort.

Die wet kan gewysig word om aangewese oorgrens invoerlisensies toe te laat, spesifiek vir brandstof wat uit Angola verkry word. Hierdie lisensies sou langs bestaande voorsieningskettings staan, met streng voorwaardes oor volumes, gehaltetoetse en toegangspunte. Die regering behoort infrastruktuur te bou om te verseker dat ngungula aan swaelspesifikasies en ander tegniese standaarde voldoen.

’n Veranderlike heffingsmeganisme vir sulke invoere kan beperkte verligting by die pomp moontlik maak sonder om die heffingstelsel wat paaie en infrastruktuur finansier, af te takel. 

Kwotas of gefaseerde integrasie kan keer dat oorgrens brandstof die mark oorstroom en gevestigde vulstasies ondermyn.

Die formalisering van noordelike brandstofdepots en toetsgeriewe sou informele handel na ’n gereguleerde stroom verskuif, gehalte-nakoming verseker en terselfdertyd vervoerkoste wat met kusinvoere gepaardgaan, verlaag.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer