Namibia Air wil vlerke gou sprei
Die regering het Desember 2026 as teikendatum vasgestel vir die eerste vlug van Namibia Air, wat ’n daadwerklike stap aandui in die pogings om weer ’n nasionale lugredery in die lug te kry.
Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het aan Network Media Hub (NMH) bevestig dat die kabinet die lugredery se bedryfsmodel en uitvoerbaarheidstudie goedgekeur het, wat die weg baan vir implementering.
“Die jongste is dat die kabinet die model en die uitvoerbaarheidstudie goedgekeur het,” het Nekundi gesê.
“Ons sal met ’n binnelandse roete begin en dan na streekroetes uitbrei.”
Hy het bygevoeg die tydlyn vir bekendstelling is nou duidelik in sig.
“Die eerste vlug word in Desember 2026 verwag,” het hy gesê.
Die beplande lugredery, wat in 2025 aangekondig is, sal met binnelandse bedrywighede begin voordat dit na streekmarkte uitbrei namate kapasiteit uitbrei. Die gefaseerde uitrol is bedoel om ’n stabiele bedryfsbasis te bou voordat meer mededingende roetes betree word.
Die goedkeuring van die kabinet dui op ’n skuif van beplanning na uitvoering, met ’n tegniese span wat reeds die opdrag gekry het om die proses te dryf.
Nekundi het gesê die werk vorder, hoewel verdere besonderhede eers gedeel sal word sodra interne prosesse afgehandel is.
“Die proses begin dienooreenkomstig ontvou en sodra dit gefinaliseer is, sal ons meer inligting deel,” het hy gesê en bygevoeg dat die lugvaartsektor versigtig hanteer moet word.
“Die lugrederybedryf is baie mededingend en ons gaan nie te veel inligting bekend maak nie.”
Nekundi het ook geweier om besonderhede te gee oor of die lugredery aan internasionale nakomingstandaarde voldoen, insluitend sertifiseringsvereistes van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie (ICAO), wat deurslaggewend vir kommersiële bedrywighede is.
Die totstandkoming van Namibia Air kom vyf jaar ná die likwidasie van Air Namibia, wat in 2020 gehok is en in 2021 amptelik onder likwidasie geplaas is.
Die ineenstorting het meer as 600 werknemers sonder werk gelaat en die land sonder ’n nasionale lugredery.
Die regering het volgehou dat die nuwe lugredery anders gestruktureer sal wees, met ’n sterker fokus op doeltreffendheid, aanspreeklikheid en langtermyn-volhoubaarheid.
Die besluit om binnelandse roetes te prioritiseer weerspieël ’n meer afgemete benadering, gemik op kostebestuur terwyl bedrywighede versterk word.
Verlede jaar het Nekundi aan NMH gesê dat Namibia Air voormalige werknemers van Air Namibia op ’n merietebasis sou in diens neem, met die mees bekwame en gekwalifiseerde kandidate wat aangestel word.
“Ons sal voormalige Air Namibia-werknemers oorweeg, maar aanstellings sal op meriete berus om te verseker dat die beste persoon vir elke rol gekies word,” het hy gesê.
Nekundi het gesê die uitrol word deur ’n toegewyde tegniese span hanteer wat die taak het om te verseker dat die lugredery aan alle nodige vereistes voor die bekendstelling voldoen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie