Die toerismesektor loof die nuwe leierskap vir die beskerming van toeriste. Foto ter illustrasie/NWR
Die toerismesektor loof die nuwe leierskap vir die beskerming van toeriste. Foto ter illustrasie/NWR

Lof vir beter toeristeveiligheid

Fenata ondersteun besluit
Die sektor prys die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie wat besoekers se veiligheid onder sy vlerk gaan neem.
Ellanie Smit

Federasie van die Namibiese Toerismeverenigings (Fenata)  het benadruk dat toeriste – plaaslik sowel as internasionaal – veilig moet voel, nie net in Windhoek nie, maar in alle streke van die land. 

In ’n beslissende stap wat daarop gemik is om Namibië se beeld as een van Afrika se veiligste reisbestemmings te verstewig, het Fenata sy volle steun gegee aan die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, luitenant-generaal Joseph Shikongo, se besluit om die eenheid vir die beskerming van toeriste onder sy direkte bevel te plaas.

Fenata het die ontwikkeling beskryf as ’n sterk en strategiese ingryping wat die sekuriteit van toeriste tot op die hoogste vlak van polisiëring in die land verhef – ’n duidelike teken dat besoekersveiligheid nou ’n top- nasionale prioriteit is.

Volgens die vereniging toon die besluit sterk politieke en wetstoepassings-erkenning van die toerismesektor se ekonomiese betekenis en die kritieke belang daarvan om Namibië se beeld as ’n veilige, verwelkomende en professioneel bestuurde bestemming te handhaaf.

“Hierdie skuif wys dat die regering en wetstoepassing verstaan wat op die spel is,” het Fenata aangedui. 

Dit het beklemtoon dat veiligheidspersepsies reisbesluite, beleggingsvloei en die lewensbestaan van duisende Namibiërs wat in die toerismewaardeketting werk, direk beïnvloed.

Deur die eenheid onder die direkte gesag van die inspekteur-generaal te plaas, meen Fenata dat die land toesig, koördinering en aanspreeklikheid versterk in pogings om besoekers landswyd beskerm.

Fenata het verder uitgewys dat die toerismebedryf vir jare hand aan hand met die polisie en ander agentskappe vir wetstoepassings gewerk het, ’n vennootskap wat in die eerste plek tot die stigting van die eenheid gelei het.

Die jongste besluit, het dit gesê, verteenwoordig ’n natuurlike maar aansienlike voortsetting van dié samewerking. 

“Die verhef van die eenheid onder die hoogste amp van die polisie en erken die noodsaaklikheid om Namibië se hardverdiende beeld as ’n veilige bestemming in ’n toenemende mededingende wêreldmark te beskerm,” het Fenata gesê.

Terselfdertyd het die vereniging dit duidelik gemaak dat die strategie nou met sigbare resultate op die grond gepaard moet gaan. Fenata het vertroue uitgespreek dat versterkte samewerking tussen die polisie, ander wetstoepassers, owerhede en die private sektor tot sigbare verbetering in veiligheid en vinnige reaksie-meganismes sal lei.

In ’n brief aan die nuut aangestelde hoof van die eenheid, hoofinspekteur Christina Van-Dunem Da Fonsech, het Fenata sy verbintenis tot verskerpte samewerking herbevestig, veral op die gebiede van kommunikasie, bewusmakingsveldtogte en vinnige optrede op oproepe van bedryfsbelanghebbendes.

“Dit is deur samewerking en gesamentlike optrede dat ons as Namibiërs kan verseker dat ons ’n warm en verwelkomende atmosfeer aan alle besoekers bied.” 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer