Visumdiens op lughawe verloop glo vlot

Iréne-Mari van der Walt
Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit het bewerings dat Namibië se nuwe visumregime die land se reputasie skade berokken van die ontken.

Die bewering spruit uit 'n plasing in die sosiale media wat 'n anonieme egpaar se frustrasies te kenne gee oor lang wagtye by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako vir hul visums om verwerk te word. Die paartjie het glo vier ure gewag en moes hul bespreking by 'n lodge kanselleer en op die laaste nippertjie ander verblyf vind, omdat dit glo weens die donker onveilig sou wees om na die lodge te ry.

Die ministerie het in 'n verklaring twee voorbeelde gebring en die bewerings as onwaar afgemaak.

Die ministerie sê dat daar Sondag 'n vlug van Frankfurt geland het met 243 passasiers aan boord. Die vlug het om 08:12 geland en om 09:27 is die laaste passasier se visum volgens die ministerie afgehandel - wat beteken dat personeel by die lughawe elke persoon in gemiddeld 19 sekondes gehelp het.

Nog 'n vlug, van Addis Ababa, het 212 passasiers aan boord gehad en het om 13:17 geland. Die laaste visum vir hierdie groep is glo om 14:40 afgehandel. Hierdie beteken elke persoon is in 'n gemiddelde tyd van 23 sekondes gehelp.

Die ministerie sê ook dat Namibië sedert die verandering in visumvereistes 70 000 buitelandse besoekers ontvang het en N$100 miljoen genereer het deur visumfooie wat in staatskoffers ingaan.

Die plasing bied geen inligting oor die vlug waarmee die paartjie in Namibië geland het nie. Die vlugte wat die ministerie as voorbeelde gebruik het het op Sondag, 25 Mei geland, maar die plasing is twee dae voor dit gemaak.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer