Van priester tot platsak
As kind het Antieke Egipte my gefassineer
Gerhardus van Grootfontein – Ek sit voor my rekenaar, dink terug aan ’n reis. Ek aarsel om dit te deel. . . Dalk kom ek in die moeilikheid. Dit is ook nou al ’n hele klompie jare gelede. Kom ons hoop vir die beste. . .
As kind het Antieke Egipte my gefassineer. Ek vermoed in ’n vorige lewe was ek ’n hoëpriester van die Antieke Egiptiese Middelryk. In my drome besoek ek soms hierdie tydlyn. Met ’n kaal geskeerde kop en dik geplakte grimering, geklee in wit linne, brand ek olies en wierook voor die reusagtige beelde in die tempel van Toth – die god van kennis en skrywe. My kamerade in die tempel is twee katte, Hester en Klitsgras.
Sedert ’n jong ouderdom hoor ek ’n roepkreet uit die droom. Die geografiese land van die farao’s eis ’n pelgrimstog. O weë, sal ek ooit in hierdie leeftyd so ’n tog kan onderneem?
Ek is in transit in Kaïro. Ek moet 19 uur wag vir my volgende vlug.
“Hier is my kans!” dink ek.
By immigrasie laat die beamptes my verstaan dat ek in Namibië vir ’n transitovisum moes aansoek doen. Die teleurstelling! Hulle sê wel vir my dat ek vir ’n hotel so tien kilometer van die lughawe af kwalifiseer. ’n Troosprys is beter as niks. Terwyl ek die vorms invul vir die hotel, moet ek my paspoort en instapkaart ingee. Ek sal dit eers terugkry wanneer ek op my volgende vlug klim.
In die hotel stap ek rond ná ’n lekker stort. Ek kom op ’n opslaanstalletjie af met ’n man wat korttoere na verskillende bestemmings in die stad adverteer. Die piramides van Giza is een van die opsies. Ek gesels bietjie met die man en hy vra of ek belangstel.
“Ek het nie ’n transitovisum of my paspoort nie” noem ek.
Hy reken dat dit nie die grootste probleem is nie. Ons kan ’n plan maak. Die plan kos ’n bietjie ekstra. Ek hoor weer die roepkreet van die farao’s en stem in. Ek gaan trek ’n paar Egiptiese pond (EP) by die OTM in die hotel.
Agter in sy motor, onder by die voetenend, ruik dit benoud. Ek moet laag lê sodat ons nie my papiere by die hotel se sekuriteitshek hoef te wys nie. So kilometer van die hotel af, sit ek regop.
Ou Kaïro flits in bruin-en-sandskakerings verby ons. My akkommoderende toerleier vertel van die moskees en die ou paleise wat van die snelweg af sigbaar is. Ek kan die armoede in van die geboue en mense sien. Soos orals, regeer die moderne farao’s op die rûe van ’n nasie – in Namibië skiet die minister se stoetkarre blink-blink by verslenterde duimryers en bokwagters verby.
Ons stop op ’n brug wat oor die Nyl strek. Ek verromantiseer hierdie vuil rivier. Die magtige Nyl is die langste rivier ter wêreld. Ek dink terug na my dae as priester en die belangrike rol wat hierdie rivier is ons daaglikse bestaan ingeneem het. Die oorstroming van die Nyl wat jaarliks plaasgevind het, het ons kalender bepaal asook ons oeste. As priester, moes ek aan baie rituele deelneem om hierdie natuurverskynsel te voorspel en te eer.
My toerleier stel voor dat ons ’n draai by die papirusmuseum maak. Met die aankoms bring ’n vrou vir my ’n glasie yskoue soet hibiskustee. Dit is baie welkom, want dit is dodelik warm. Daar is ’n demonstrasie wat illustreer hoe papirus gemaak is. Die eenvoud van antieke tegnologie is indrukwekkend, want ons dink nie meer innoverend nie. Masjiene doen dit vir ons.
Ek loop deur ’n galery met papiruskunswerke. Nog ’n glasie tee word in my hand gedruk.
“Do you want to buy?” hoor ek ’n stem vra.
“No thank you, I am just appreciating the art” antwoord ek. En in daardie oomblik draai die hele ervaring op sy kop.
My toerleier sê laggend: “Come on, buy something. You don’t have visa and we are your friends.”
Ek besef wat aangaan en stem toe in om een kunswerk te koop. Daar word diep in my oë gekyk, geglimlag en ’n tweede kunswerk word in my hand gestop.
Terwyl ons wegry na Giza toe, praat ek nie veel nie. Ek dink. Niemand weet ek is hier nie. Ek het vir geen familie of vriende laat weet wat ek in die mou voer nie. Volgens lughawe-administrasie, is ek in die hotel. My foon werk nie.
Ons ry met agterpaaie tot in Giza. Die omgewing lyk interessant. Ek vind die klein stalletjies met sakkies mango’s en groot glashouers koue, swart koffie opvallend.
Ek sien die piramides op die horison nader kom. Ons stop nie by die hoofingang nie. Iets lyk nie reg nie. Daar is ’n man met ’n groot sonbril wat my groet. Hulle neem my na ’n vertrek vol ou bottels in verskillende groottes. Dit ruik ongelooflik lekker.
’n Wulpse dame met swart krulhare en klomp klingende armbande kom die vertrek binne. Sy begin die bottels van die rakke afhaal en aan my smeer.
“This one is good for your wife and that one is good for you”. Sy is vatterig. Haar gesig is baie naby aan myne, haar vingers strelend deur my hare. Die hemelse parfuum en haar sensualiteit neem my terug na my drome. Kamers van aanbidding flikker met fakkels terwyl ek olies meng. Hester en Klitgras hou waak by die deur.
Haar stem bring my terug. “Do you want to buy?”
“No, thank you.”
“You don’t have visa, we are your friends.”
“I don’t have anymore cash.”
“We have card machine.” Nou ja. . .
Net buite die kamer vol parfuum is ’n kameel opgesaal. Dit is my rit in na die piramides. Ons gebruik nie die hoofingang nie. Hierdie vriende van my neem my met ’n agterpad oor klein sandduine na die piramides. Ek moet 4 500 EP betaal. Ek vind later uit dat besoekers met visums net 150 by die hoofingang betaal.
Die piramides is hemelsgroot. Dit is een reusagtige klip op die ander. Om tussen hulle te beweeg is ’n wonderlike gevoel. Dit oorskadu die angs en vrees van my situasie.
Hierdie groot grafte laat dink my aan die mummifiseringsrituele wat ek soms moes uitvoer. Ek onthou spesifiek toe ek vir Klitsgras moes mummifiseer na sy sterwe. Ek het sy lyfie oopgesny, organe in botteltjies gesit en die karkas in sout en kalksteen laat uitdroog voor ek dit in linne toegedraai het. Terwyl ek hom in ’n klein sarkofaag plaas, het die trane warm oor my wange gerol. Hester het teen my geskuur. ’n Treurende troos.
Die sfinks glimlag vir my en die somber gedagtes verdwyn in die strale van die helder sonlig. Ek voel tuis.
Terug by my huis in hierdie leeftyd, verwerk my ouers my avontuur met groot oë terwyl hulle benoud sluk.
“Was dit die moeite, geld en angs werd?” vra my ma. “Indien ek dalk weer eendag die geleentheid kry om die piramides te sien, nee – maar sou ek binnekort omkom, definitief ja!” antwoord ek platsak.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie