Toeriste-aankomste daal met 3,2%

Staff reporter

Namibië het in 2025 ’n afname van 3,2% in internasionale toeriste-aankomste aangeteken, met net meer as 1,21 miljoen besoekers wat die land binnegekom het.

Dit het hernude pleidooie ontlok om veiligheid te verbeter, bestemmingsbemarking te versterk en die land se mededingendheid ’n hupstoot te gee.

Volgens die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se statistiekverslag van toeriste-aankomste 2025, wat Donderdag in Windhoek bekend gestel is, het Namibië verlede jaar 1 217 108 toeriste verwelkom – minder as die 1 257 093 toeriste in 2024.

Met die bekendstelling van die verslag het die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel, die afname as “statisties gering” beskryf, maar gesê dit behoort as ’n waarskuwing vir die bedryf te dien. 


WEKROEP

“Al kan hierdie geringe afname as statisties gering beskou word, moet ons dit as ’n wekroep hanteer en as ’n duidelike teken om ons fokus te hernu en ons mededingendheid as land te verbeter,” het sy gesê.

Daniel het gesê die toerismesektor bly toenemende druk ervaar weens wêreldwye ekonomiese toestande, verskuiwende reisigersvoorkeure, verskerpte mededinging van ander bestemmings en kommere oor besoekers se veiligheid en sekuriteit.

Sy het gesê dalings is in verskeie van Namibië se belangrike bronmarkte aangeteken, insluitend Duitsland, Suid-Afrika en Frankryk, met negatiewe publisiteit rakende misdade teen toeriste wat tot swakker vraag bygedra het.

“Dit is ’n kwessie van groot bekommernis wat ons eenvoudig nie kan en nie behoort te verdra nie,” het sy gesê.


NUWE VISUMSVEREISTES

Daniel het ook erken dat die implementering van Namibië se hersiene visumvereistes moontlik tot die afname bygedra het, veral gedurende die aanvanklike implementeringsfase.

“Die nuwe visumvereistes was nodig,” en bygevoeg dat die fokus nou moet verskuif na die herstel van vertroue in die toerismehandelsmerk van Namibië.

Om veiligheidskwessies te takel, het die ministerie ’n meesterplan vir nasionale ruimtelike toerisme ontwikkel, wat aanbeveel dat ’n permanente inter-institusionele werkgroep ingestel word wat toegewy is aan toerismeveiligheid, sekuriteit en krisisbestuur.

Die minister het ook aangekondig dat die jaarverslag vir die eerste keer besoekerstatistiek vir Namibië se nasionale parke insluit en die toevoeging as ’n belangrike mylpaal beskryf in die verbetering van toerismedata.

Altesaam 994 780 besoekers is aangeteken, waarvan 816 730 internasionale besoekers en 178 050 plaaslike besoekers aan nasionale parke was. Die top-drie nasionale parke is die vlagskip Etosha, gevolg deur Namib-Naukluft en Dorob.


TOP-TIEN

Die tien grootste bronmarkte vir 2025 was Suid-Afrika, Angola, Botswana, Zambië, Zimbabwe, Duitsland, die Verenigde State van Amerika (VSA), die Verenigde Koninkryk (VK), Nederland en Frankryk. 

Altesaam 64,1% toeriste was mans en 35,9% vroue. Van die totale internasionale toeriste-aankomste was 62,1% toeriste 40 jaar en ouer. Die ouderdomsverspreiding is oorheers deur die die ouderdomsgroep van 60 jaar en ouer wat 22,2% uitgemaak het, gevolg deur die toeriste tussen 40 en 49 (21,9%), en 20,3% is tussen 30 ent 39 jaar oud. 

Die totale toeriste-aankomste het bestaan ​​uit 48,4% vir vakansie, 28,6% vir besoeke aan vriende en familie, 18,5% vir sake en 4,5% vir ander reisdoeleindes.

Die gemiddelde aantal nagte wat internasionale toeriste in 2025 deurgebring het, was 13 nagte, een nag minder as die gemiddelde 14 nagte wat internasionale toeriste in Namibië in 2024 deurgebring het.

Piektye is steeds tussen Mei en Augustus en Desembervakansies. 

Padvervoer het die dominante wyse van toegang gebly met 77,9% gevolg deur lugvoer van 17,7% en 4,4% toeriste het met skepe gearriveer.

Daniel het belanghebbendes regoor die toerismebedryf vir hul voortgesette bydrae tot die sektor bedank, insluitend dié wat in gasvryheid, vervoer, gidswerk, bewaring en kulturele ondernemings werk. 

Sy het ook die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit erken vir die aankoms- en vertrekdata wat gebruik is om die verslag saam te stel.

Daniel het benadruk dat die ministerie sy verbintenis nagekom het om die verslag van 2025 voor die einde van Junie te publiseer.

“Die verslag verskaf noodsaaklike bewyse om beplanning, beleidsontwikkeling en die volhoubare groei van Namibië se toerismebedryf te lei,” het sy gesê.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer