Toerismesektor kap terug teen NaCC

HAN: Bedreig beleggersvertroue
Rolspelers vrees die tydsberekening kon kwalik slegter wees met Namibië wat reeds met dalende toerismesyfers worstel.
Ellanie Smit

Namibië se private toerismesektor bevraagteken die Namibië Mededingingskommissie (NaCC) se stap om die land se gevestigde toerismemodel van gesamentlike ondernemings (JV’s) te ondersoek. 

In ’n brief aan die kommissie waarsku Gitta Paetzold, die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), dat die ingryping ’n stelsel kan ontwrig wat wêreldwyd daarvoor erken word dat dit landelike gemeenskappe ophef en natuurlike hulpbronne beskerm.

Sy het gevra vir duidelikheid oor die beleidsgrondslag van die NaCC se ondersoek na ’n JV-toerismemaatskappy in die noordweste van Namibië.

Daar is verlede week aangekondig dat die NaCC-raad ’n ondersoek van stapel gestuur het teen die toerismemaatskappy Ultimate Safaris (Pty) Ltd en drie bewaringsgebiede in die Khorixas-omgewing in die Kunenestreek weens teenmededingingsbedrywighede. Paetzold het “ernstige kommer” uitgespreek oor wat sy as ’n ongekende stap beskryf het om ’n model te bevraagteken wat vir byna drie dekades die ruggraat van Namibië se gemeenskapsgebaseerde toerismesukses vorm. Die JV-model, wat deur die regering via die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme ontwikkel is, is ontwerp om landelike gemeenskappe – veral in afgeleë kommunale bewaringsgebiede – in staat te stel om aktief aan toerisme deel te neem en daarby te baat, het sy gesê. 

Die kern van die model is ’n vennootskap tussen bewaringsgebiede en beleggers in die private sektor, wat deur langtermyn-ooreenkomste geformaliseer word. Hierdie reëlings volg tipies ’n benadering van “bou, bedryf en oordra” (BOT), waar beleggers toerismegeriewe volledig finansier en vir tydperke van 15 tot 30 jaar bestuur voordat dit uiteindelik aan die gemeenskappe oorgedra word. 

Volgens Paetzold het hierdie struktuur hom as besonder doeltreffend bewys. Private vennote bring kapitaal, marktoegang en bestuurskundigheid, terwyl bewaringsgebiede die grond, plaaslike arbeid en die bewaring van natuurlike hulpbronne bydra. 

Sy het gesê die resultaat is ’n netwerk van meer as 50 lodges en kampeerterreine oraloor Namibië in gesamentlike ondernemings, wat inkomste, werksgeleenthede en bewaringsuksesse in gelyke mate lewer. 

Die model se sukses is nou verweef met Namibië se vooruitstrewende beleidsraamwerk, veral die wysiging van die Wet op Natuurbewaring van 1975 in 1996, wat regte oor wild en toerisme aan plaaslike gemeenskappe deur bewaringsgebiede herstel het. 

Paetzold het gesê hierdie wetgewende verskuiwing het die grondslag gelê vir toerisme in kommunale bewaringsgebiede – wat nou as ’n kenmerk van Namibië se wêreldwye toerisme-aanbod beskou word. Kern tot die huidige geskil is die kwessie van eksklusiwiteit. HAN voer aan dat eksklusiewe regte wat aan private beleggers binne bewaringsgebiede toegestaan word, nie net geregverdig is nie, maar ook noodsaaklik. 

Hierdie bepalings, sê HAN, beveilig hoërisiko-beleggings in afgeleë gebiede, verseker langtermyn- finansiële lewensvatbaarheid en beperk omgewingsimpak in ekologies sensitiewe streke.

“Sonder eksklusiwiteit neem die aansporing vir beleggings uit die private sektor in hierdie gebiede eenvoudig af,” het Paetzold gewaarsku.

Sy het bygevoeg dat sulke ooreenkomste ook bestendige inkomstestrome, opleidingsgeleenthede en werkskepping vir plaaslike gemeenskappe waarborg. Die saambreelorganisasie, die Namibian Association of Community-Based Tourism Support Organisations (Nacso), het voorheen die JV-model benadruk as ’n kritieke lewenslyn vir landelike bevolkings, veral in dorre en ekonomies gemarginaliseerde streke waar alternatiewe moontlikhede vir inkomste skaars is. Paetzold het gewaarsku dat die NaCC se ingryping die vertroue van beleggers kan ondermyn in ’n stelsel wat oor dekades sorgvuldig opgebou is. HAN het verder bevraagteken waarom soortgelyke eksklusiwiteitsreëlings in nasionale parke nie onder die loep gekom het nie. HAN meen die huidige ondersoek is inkonsekwent en kan moontlik skadelik kan wees. 

Rolspelers in die bedryf vrees die tydsberekening kon kwalik slegter wees. Namibië worstel reeds met dalende toerismesyfers, met vroeë verblyfstatistiek van 2026 wat op ’n afname in besoekersaankomste dui. Verdere onsekerheid, voer hulle aan, kan hierdie afwaartse tendens versnel. 

“Die JV-toerismemodel is nie net ’n besigheidsraamwerk nie – dit is ’n beproefde meganisme vir bewaring, landelike ontwikkeling en ekonomiese insluiting,” het Paetzold gesê. 

“Enige ontwrigting daarvan bedreig die lewensbestaan van duisende Namibiërs wat van toerisme afhanklik is.”

Terwyl spanning toeneem, doen die private sektor ’n beroep op die NaCC om die breër implikasies van sy ondersoek noukeurig te weeg. 

Hulle voer aan op die spel is nie net ’n wêreldwye erkende toerismemodel nie, maar ook die delikate balans tussen bewaring, die bemagtiging van gemeenskappe en volhoubare ekonomiese groei wat Namibië met moeite probeer bereik het.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer