Toerisme: Net 45% van begroting bestee
Namibië se ministerie van die omgewing, bosbou- en toerisme het minder as die helfte van sy 2025/2026-ontwikkelingsbegroting bestee, wat kommer wek oor vertragings aan sleutelprojekte. Van die N$70 miljoen wat aan nege programme en 38 kapitaalprojekte toegewys is, is slegs N$31,1 miljoen – sowat 45% – bestee. “Hierdie vlak van begrotingsuitvoering is kommerwekkend,” het minister Indileni Daniel tydens die jaarlikse personeelvergadering gesê. Sy het personeel aangemoedig om toegewyd te bly om te verseker dat hulpbronne ten volle benut word om bewaring en toerisme-ontwikkeling te ondersteun. Ten spyte van die lae bestedingstempo het Daniel werknemers vir hul werk geloof en gesê die ministerie se prestasies in 2025 is “in die eerste plek ’n weerspieëling van hul toewyding”.
VORDERINGSVERSLAG
Die minister het gesê veldwagters en bewaarders het bewaringsgebiede en wild beskerm, terwyl bosboubeamptes die volhoubare gebruik van hulpbronne bevorder het en toerismebeamptes herstel-inisiatiewe ondersteun het. Administratiewe en tegniese personeel, het sy bygevoeg, het verseker dat aan beplannings-, finansiële bestuur en verslagdoeningsvereistes voldoen is. Volgens Daniel is verskeie sleutelprojekte ook voltooi, insluitend infrastruktuurontwikkelings by Ngoma, Namutoni, Mukwe, K1 en K2, Hobas en die Fish River Canyon-waterpyplyn. Sy het ook verwys na die inwyding van die kantoor op Swakopmund en die voltooiing van die kantoor vir bosbou op Okahandja. Vordering is ook gemaak met die opgradering van paaie vir toeriste in Etosha, ’n deurslaggewende ontwikkeling om toegang tot toerismebestemmings te verbeter en plaaslike ekonomiese aktiwiteit te ondersteun. Daniel het gesê hierdie beleggings bly krities om operasionele kapasiteit te versterk, werksomstandighede vir personeel te verbeter en die besoekerservaring in Namibië se beskermde gebiede te verhoog. “Waar uitdagings in die uitvoering na vore gekom het, het die bestuur beslissend ingegryp,” het die minister gesê. Sy het bygevoeg dat programbestuurders verplig is om weer op prioriteitsuitsette te fokus, koördinering met verkrygings- en finansieringseenhede te verbeter, en interne monitering en verslagdoening te versterk. Daniel het gesê hierdie maatreëls het bygedra tot verbeterde uitvoeringstempo’s, duideliker aanspreeklikheid en beter belyning tussen beplande aktiwiteite en beskikbare hulpbronne. Die minister het uitdagings erken soos begrotingsdruk, vervoerbeperkings, vertragings met verkryging, kapasiteitsbeperkings en ook operasionele probleme in afgeleë plekke. Hierdie struikelblokke, het Daniel gesê, beklemtoon die voortgesette behoefte om beplanning, koördinering, kontrakbestuur en stelsels vir projekuitvoering te versterk. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie