Digitale nomade, of mense wat danksy tegnologie tydelik in een land woon, maar in 'n ander werk, kan nou vir werkvisums in Namibie aansoek doen. Foto Argief
Digitale nomade, of mense wat danksy tegnologie tydelik in een land woon, maar in 'n ander werk, kan nou vir werkvisums in Namibie aansoek doen. Foto Argief

Spesiale visums vir nomadiese werkers

Ekonomiese voordele uitgewys
Volgens NIPDB het tegnologie-gesteunde, ligging-onafhanklike werk die afgelope jare in gewildheid toegeneem.
Ronelle Rademeyer
Mense wat danksy tegnologie hul beroepe enige plek in die wêreld kan beoefen, kan nou aanlyn aansoek doen vir ’n werksvisum wat hulle toelaat om vir ’n tyd lank as “digitale nomade” in die land te woon.

Die Namibië Beleggingsbevordering- en Ontwikkelingsraad (NIPDB) het dié soort visum vir afstandswerkers gister bekend gestel.

Dit word in samewerking met die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit uitgereik.

“Die Namibië digitale nomade-visum is ’n inisiatief waardeur die regering buitelandse professionele mense, wat selfversorgend en onafhanklik van ligging is, nooi om vir ’n bepaalde tydperk moeitevry in Namibië te woon, te werk en te reis,” sê die raad in ’n verklaring.

Volgens NIPDB het tegnologie-gesteunde, ligging-onafhanklike werk die afgelope jare in gewildheid toegeneem.

“Met die koms van die Covid-19-pandemie is mense egter gedwing om afstandwerk as ’n realiteit van die nuwe werkplek-normaal te waardeer en te aanvaar.

“Teen dié agtergrond het lande met groot toerismebedrywe wat gebuk gegaan het onder die afname in wêreldreise, spesifieke visums aan afgeleë werkers begin aanbied,” sê die raad.

Namibië is die vierde Afrika-land en een van 40 wêreldlande wat hierdie tipe visum aanbied. Die ander Afrikalande is Mauritius, Seychelles en die Kaap Verdiese Eilande.

Nog sewe lande op die vasteland, insluitend Suid-Afrika en Kenia, is in die proses om hierdie visums in te stel, sê die NIPDB.

Statistiek toon sogenaamde digitale nomade dra jaarliks US$787 miljard tot die wêreldekonomie by.

Daar was in 2021 sowat 35 miljoene mense wat afstandswerk verrig het. Onder hulle was ’n rapsie meer vroue as mans – 50,19% teenoor 49,81%.

Die meeste van hulle (47%) is in hul dertigs, toon internasionale statistiek oor digitale nomade. Hulle is meestal in e-handel, bemarking, ontwerp, ontwikkeling. Talle is ook skrywers.

Die visum sal hulle toelaat om vir drie tot ses maande in Namibië te woon, te werk en te reis.

Die NIPDB wys daarop die toerisme- en gasvryheidsbedryf sal daarby baat, terwyl dit ’n ekonomiese voordeel vir die land inhou en bewusmaking skep vir Namibië as nasionale handelsmerk.

Steng beperkings geld, naamlik dat hulle nie die Namibiese arbeidsmag mag betree nie; hulle moet hul inkomste buite Namibië verdien en hul vernaamste plek van besigheid moet ook buite Namibië wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer