Me. Tracey Eagles, hoofbemarkingsbeampte van FNB Namibia; mnr. Hennie Geldenhuys, hoofbemarkingsbeampte van Synergi; mnr. Marco Wenk, uitvoerende hoof van Namibia Breweries Limited (3de, 4de en 5de van links) en kollegas verseël amptelik die vennootskap waardeur die Toerisme Ekspo N$250 000 se kontantbewyse sal weggee wat van 3 tot 5 November by die ekspo gebruik kan word. Foto Frank Steffen
Me. Tracey Eagles, hoofbemarkingsbeampte van FNB Namibia; mnr. Hennie Geldenhuys, hoofbemarkingsbeampte van Synergi; mnr. Marco Wenk, uitvoerende hoof van Namibia Breweries Limited (3de, 4de en 5de van links) en kollegas verseël amptelik die vennootskap waardeur die Toerisme Ekspo N$250 000 se kontantbewyse sal weggee wat van 3 tot 5 November by die ekspo gebruik kan word. Foto Frank Steffen

Só blaas FNB, NBL lewe in toerismebedryf

Net betyds vir Wêreldtoerismedag, wat vandag oor die wêreld heen gevier word, word die Toerisme Ekspo – ’n inisiatief deur die mediagroep Namibia Media Holdings (NMH) – nou op groot skaal deur FNB Namibia en Namibia Breweries Limited (NBL) ondersteun.

As deel van hul aansienlike bydraes finansier hierdie twee maatskappye “Tourism Cash-Back”-kontantbewyse ten bedrae van N$250 000.

Die Toerisme Ekspo vind vanjaar vanaf 3 tot 5 November by die SKW-sportgronde in Olympia plaas.

Dié drie dae van uitstallings en interaksie tussen rolspelers in die plaaslike sowel as die streek- en internasionale toerismebedryf, het ten doel om herlewing mee te bring in die toerismebedryf wat erg deur die Covid-19-pandemie beskadig is en steeds ’n herstelpad probeer navigeer.

Deur die bogenoemde vennootskap is N$250 000 geoormerk om in “Tourism Cash-Back”-kontantbewyse belê te word wat kwalifiserende ekspogangers as bewyse ter waarde van N$1 000 elk vir kontant kan inwissel as hulle bespreek en betaal het vir verblyf en aktiwiteite wat deur die uitstallers by die ekspo aangebied word – dikwels reeds as deel van ’n spesiale aanbieding.

Koopbewyse sal gedurende die drie dae van die Ekspo ingeruil moet word. Die strewe met hierdie inisiatief is om kontantvloei in die bedryf aan te spoor, terwyl die reisbedryf ’n hupstoot kry.

Dié kontantbewys-inisiatief word vandag, op Wêreldtoerismedag, in Omuthiya in die Oshikotostreek amptelik deur minister Pohamba Shifeta van die omgewing, bosbou en toerisme bekend gestel.

Die Ekspo het reeds ’n groot vraag na meer uitstalruimte ontvang en die organiseerders doen ’n beroep op toerisme-operateurs, veral in die kategorieë van verblyf en ontspanningsaktiwiteite, om hul stalletjies betyds te bespreek voor daar nie meer spasie oor is nie.

Die Ekspo sal, afgesien van die koopbewyse, deur middel van verskeie mediaplatforms kompetisies en sekondêre inisiatiewe aanbied, waarvan die Toeris van die Jaar-kompetisie – wat op 30 September sluit – bloot een is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer