Onmin oor toegang tot Dooievlei
Die toerismebedryf is in rep en roer ná die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se aankondiging van nuwe regulasies rakende toegang tot Sossusvlei en Dooievlei, wat op 1 Mei in werking sal tree.
In ’n verklaring Dinsdag deur die uitvoerende direkteur Sikongo Haihambo, het die ministerie uiteengesit dat slegs twee kategorieë operateurs gemagtig sal wees om pendeldienste tussen Sossusvlei se 2x4- en 4x4-parkeerarea wat na Dooievlei lei, te verskaf. Hule is Grow Namibia, wat handel dryf as About Deadvlei Sossusvlei Management en geregistreerde toergidse wat in diens is van lodges in en om die Namib-Naukluft Nasionale Park.
Volgens die nuwe reëls moet lodge-gebaseerde gidse deur die Namibië Toerismeraad (NTB) geakkrediteer wees en mag hulle slegs hul eie kliënte vervoer.
Volgens die verklaring sal geen ander operateurs toegelaat word om pendeldienste langs die Sossusvlei 4x4-parkeerarea by Dooievlei te bedryf nie.
“Gevolglik sal alle besoekers aan Dooievlei verplig wees om die gemagtigde pendeldiens te gebruik.”
Die regulasies bring ook ’n groot verandering vir besoekers mee: Selfry verder as die 2x4-parkeerarea sal nie meer toegelaat word nie.
Die aankondiging het kommer gewek onder toeroperateurs en belanghebbendes, waarvan baie vrees dat die skuif gevestigde sakemodelle kan ontwrig en buigsaamheid vir toegang vir beide selfry- en begeleide reisigers kan beperk.
Belanghebbendes en besoekers is versoek om kennis te neem van die veranderinge en dienooreenkomstig te beplan voor die implementering daarvan volgende maand.
Die Toer- en Safarivereniging van Namibië (Tasa) het bevestig dat hulle ’n dringende en amptelik voorlegging oor die kwessie voorberei, wat dui op die groeiende weerstand in die bedryf en die waarskynlikheid van verdere betrokkenheid by owerhede in die komende weke, met die argument dat dit ’n nie-eksklusiewe tender is.
Tasa het in reaksie gesê die aankondiging “het aansienlike kommer oor die hele toerismesektor, plaaslik en buite ons grense, veroorsaak”.
In Desember verlede jaar het die ministerie aangedui dat hulle daarop aangedring het dat selfry-toegang by Sossusvlei oop bly.
Volgens die ministerie is slegs die konsessiehouer gemagtig om besoekers van die aangewese 2x4-parkeerarea af te haal.
Die ministerie het bewerings ten sterkste verwerp dat die Sossusvlei-pendelkonsessie selfry-toeriste uitsluit en beklemtoon dat onafhanklike reisigers welkom bly en sonder beperking toegang tot een van Namibië se gewildste bestemmings kan kry.
Die ministerie het toe verklaar dat die konsessie wat binne die Namib-Naukluft Park bedryf word, nie selfry-besoekers verbied nie en dit verhoed ook nie dat toeroperateurs en lodges wat deur die NTB geregistreer is, by Sossusvlei kan werk nie.
Volgens die ministerie word die doel van die konsessie wyd misverstaan.
Eerder as om die toer te beperk, is die doel om aktiwiteite te reguleer, wat ’n risiko vir die brose woestynomgewing inhou. Beperkings geld slegs vir ongeregistreerde operateurs, voertuie soos busse en vragmotors wat die omgewing beskadig en 2x4-voertuie wat nie veilig deur die terrein kan ry nie.
Destyds het die ministerie ook verklaar dat die konsessie nie ander operateurs verhinder om in die gebied te werk nie.
Slegs die konsessiehouer is egter gemagtig om besoekers van die aangewese 2x4-parkeerarea te gaan haal – ’n stelsel wat ontwerp is om verkeersopeenhoping te verminder, voertuigbeweging te beheer en die omgewingsimpak langs die sensitiewe duinkorridor te beperk.
Dit het gevolg toe About Africa Co., deur Adelt Sossusvlei Concession Management, begin het met die implementering van die volgende fase van sy konsessie-ooreenkoms met die ministerie.
Onder hierdie fase sal selfry-voertuie nie meer toegelaat word om die 4x4-gedeelte van die Sossusvlei-konsessiegebied vanaf 15 Desember 2025 te betree nie, wat dekades van onbeperkte toegang tot die laaste stuk wat na Dooievlei, Big Daddy en Sossusvlei lei, beëindig.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie