Onduli Ridge een van top-50 hotelle ter wêreld

Ellanie Smit

Onduli Ridge in die Kunenestreek is onder die 50 mees ongelooflike hotelle in die wêreld vir 2027 deur Fodor’s Travel Guide aangewys.

Dié luukse lodge wat deur die Namibiese toerisme- en bewaringsmaatskappy ultimate.earth bedryf word, het die erkenning van Fodor’s ontvang, wat ongelooflike toerisme-eiendomme uitlig wat onderskei word deur hul karakter, ontwerp, gasvryheid en vermoë om uitsonderlike gaste-ervarings te bied.

As een van slegs 50 hotelle wat wêreldwyd gekies is, het die lodge ’n eksklusiewe internasionale plek verseker, terwyl dit verdere aandag op Namibië as bestemming vestig.

Volgens ultimate.earth is die erkenning besonder betekenisvol, omdat die keuse nie op gewildheidsranglyste, gasteresensies of betaalde advertensies berus nie. Fodor’s Travel Guide se redakteurs werk saam met honderde gasvryheidskenners om uitstaande eiendomme te identifiseer, met insluiting wat deur ’n onafhanklike redaksionele proses bepaal word.

Vir sy 2027-uitgawe het Fodor’s sy keuse van 100 toerisme-eiendomme in vorige uitgawes tot net 50 hotelle wêreldwyd verminder, wat vanjaar se erkenning ’n besonder noemenswaardige prestasie vir dié Namibiese lodge maak.

Met ’n geskiedenis van 90 jaar word Fodor’s Travel Guide as ’n gevestigde stem in die internasionale reisbedryf beskou. Sy erkenning plaas Onduli Ridge langs sommige van die wêreld se mees vooraanstaande gasvryheidsinstellings.

Geleë tussen granietrotsblokke in Namibië se ruwe woestynlandskap in die kommunale bewaringsgebied van Doro !Nawas, het Onduli Ridge sy identiteit gebou rondom ’n intieme verbintenis met sy natuurlike omgewing. 

Die lodge se argitektuur smelt saam met die landskap wat ’n vorm van luuksheid vir gaste bied wat fokus op die natuur, wildlewe en afgesonderheid van die woestyn.

Tristan Cowley, besturende direkteur van ultimate.earth, het gesê die erkenning was ’n buitengewone eer, veral omdat dit op onafhanklike redaksionele beoordeling eerder as kommersiële oorwegings gegrond was.

“Wat dit besonder betekenisvol maak, is die geloofwaardigheid van die keuse. Dit is nie iets wat jy kan koop of bloot kan bereik deur die grootste bemarkingsbegroting te hê nie. 

“Dit is ’n onafhanklike redaksionele erkenning van die ervaring wat ’n lodge lewer en wat dit werklik besonders maak,” het hy gesê.

Cowley het die lodge se personeel en sy gemeenskapsvennote vir die prestasie geloof.

Hy het gesê die erkenning toon dat Namibië met die wêreld se voorste bestemmings kan meeding deur ervarings te bied wat in sy eie landskappe, mense en natuurlike erfenis gewortel is, eerder as om te probeer om ander bestemmings na te boots.

Die jongste toekenning is een van Onduli Ridge se groeiende rekord van internasionale erkenning. In 2024 het die lodge die Richard Bangs-toekenning vir beste hotelle in die wêreld ontvang, ná sy sukses by die 2023 PURE-toekenning, waar dit die toekenning vir kreatiwiteit gewen het vir sy kenmerkende ontwerp en benadering tot volhoubaarheid en bewaring.

Buiten die toekenning vir die lodge self, meen ultimate.earth dat die erkenning tot groter internasionale bewusmaking van Namibië as toerismebestemming kan bydra.

Cowley het gesê internasionale erkenning is besonder waardevol vir ’n relatief klein land wat teen bestemmings met aansienlik groter bemarkingsbegrotings meeding.

“Ons is ongelooflik trots op wat dit vir Onduli Ridge beteken, maar ons sien dit ook as ’n oorwinning vir Namibië,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg erkenning van gerespekteerde internasionale reisowerhede help om Namibië op die radar van reisigers te plaas wat andersins dalk nie sou oorweeg het om die land te besoek nie.

Volgens Cowley strek die voordele daarvan om meer besoekers te lok verder as individuele toerisme-ondernemings. Hy voeg by dit skep geleenthede om Namibië se landskappe, wildlewe, mense en bewaringsinisiatiewe ten toon te stel.

Vir ultimate.earth is die verhouding tussen uitstekende gasvryheid, bewaring en gemeenskapsontwikkeling kern tot sy toerismefilosofie.

Die maatskappy bedryf ’n portefeulje van lodges, kampe, reise en ervarings wat daarop gemik is om te wys hoe verantwoordelike toerisme lewensbestaan, plaaslike ondernemings en bewaring kan ondersteun, terwyl dit die natuurlike en kulturele erfenis beskerm wat Namibië kenmerkend maak.

“Toerisme gefokus op die natuur kan ’n belangrike rol speel in werkskepping en ekonomiese geleenthede, veral in gebiede waar alternatiewe lewensbestaan beperk is,” sê Cowley.

“Onduli Ridge se insluiting in Fodor’s se 2027-keuse verteenwoordig daarom meer as ’n internasionale prestasie vir een lodge. Dit bied ook verdere blootstelling vir Namibië se toerismebedryf en versterk die land se vermoë om kenmerkende, wêreldklas-ervarings te lewer.”

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer