Nuwe stelsel vir voertuie by SA grensposte
Motoriste wat na Suid-Afrika reis sal binnekort nuwe doeanevereistes in die gesig staar aangesien die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) verpligte tydelike invoerverklarings vir alle buitelandse geregistreerde voertuie instel wat die buurland ingaan.
Die nuwe stelsel, wat op 1 Junie 2026 in werking sal tree, sal op alle buitelandse geregistreerde motorvoertuie van toepassing wees, insluitend dié wat in lidlande van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) geregistreer is, soos Namibië, Botswana, Lesotho en Eswatini.
Volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) is hierdie vereiste in ooreenstemming met Artikel 15 van die Suid-Afrikaanse Doeane- en Aksynswet, wat die verklaring van alle goedere, insluitend voertuie, by grensposte van Suid-Afrika, verpligtend maak. Terwyl geregistreerde voertuie van Sacu voorheen van hierdie vereiste vrygestel was weens bedryfsuitdagings by grensposte, het verbeterde stelsels volgens SARS sedertdien hierdie struikelblokke uit die weg geruim.
Die belastingowerheid in die buurland het egter gesê nuwe elektroniese stelsels maak volle implementering nou moontlik.
“SARS het die reisbestuurstelstel Travel Management System (TMS) en ’n Mobi-toep bekendgestel om voorafverklaring te vergemaklik,” het SARS in ’n verklaring gesê
“Die TMS stel reisigers in staat om doeaneverklarings elektronies in te dien voordat hulle by die grens aankom, wat voorlopige verwerking, verifikasie en goedkeuring vooraf moontlik maak.”
SARS het gesê die proses sal na verwagting vertragings aansienlik verminder en die beweging van reisigers deur grensposte versnel.
Die inkomstowerheid het beklemtoon dat die Sacu-ooreenkoms lidstate nie vrystel van die nakoming van Suid-Afrikaanse nasionale wetgewing wat invoerbeheer reguleer nie.
“Met ingang van 1 Junie 2026 moet alle Sacu-geregistreerde voertuie wat Suid-Afrika binnekom, aan die proses vir tydelike invoerverklaring voldoen,” het SARS gemaan.
“Tydelike invoerpermitte sal beskikbaar bly vir gereelde besoekers, geldig vir ses maande en met die moontlikheid van veelvuldige binnekomste sonder heraansoek.”
Motoriste word aangemoedig om hulself voor 1 Junie met die nuwe prosedures vertroud te maak om vertragings te vermy wanneer hulle Suid-Afrika per pad ingaan.
Die owerheid het bygevoeg dat amptenare by grensposte ontplooi sal word om reisigers met die implementeringsproses te help.
Die volgende SARS-verteenwoordigers by Suid-Afrikaanse grensposte aangrensend aan Namibië kan gekontak word: Memory Ndou by [email protected] of +27 71 883 3457 in die Noordwes-provinsie en Isaac Tau by [email protected] of +27 82 447 3560 in die Noord-Kaap.
Verdere inligting, registrasiebesonderhede en riglyne vir indiening is op die SARS-reisigerverklaringsplatform, www.sars.gov.za/travellerdeclaration, beskikbaar.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie