NTB se uitvoerende hoof, Sebulon Chicalu, by Afrika se reis-indaba wat in Mei in Durban gehou is. Foto NTB
NTB se uitvoerende hoof, Sebulon Chicalu, by Afrika se reis-indaba wat in Mei in Durban gehou is. Foto NTB

NTB verwerp bewerings oor buitensporige reiskostes

‘Kom streng finansiële beheermaatreëls na’
Die goedgekeurde reisbegroting vir die NTB-raad vir die 2025-'26-boekjaar is N$2,3 miljoen en nie N$4 miljoen soos beweer is nie, volgens NTB se woordvoerder.
Ellanie Smit
Die Namibiese Toerismeraad (NTB) het bevestig dat die uitgawes wat verband hou met sy raadsaktiwiteite vanaf 1 April verlede jaar tot op hede sowat N$2,6 miljoen beloop.

NTB se woordvoerder, Flora Quest, het gesê dit weerspreek die bewering dat NTB-raadslede “N$2 miljoen in vyf maande in hul sakke gesteek het”.

Daar is onlangs in die media berig verskeie NTB-raadslede het N$2 miljoen in reistoelaes oor ’n tydperk van vyf maande ontvang, met sommige direkteure wat na bewering vanjaar tussen N$300 000 en N$600 000 verdien het.

Quest het gesê die geverifieerde raadsuitgawes van N$2,65 miljoen het sowat N$737 739 in reis- en verblyftoelaes (S&T), N$878 485 vir lugreiskoste en N$661 377 vir sekretariële en administratiewe dienste gedek. Sy het gesê dit het ook vergaderingslokale en verversings sowel as bedryfskoste gedek.

“Dié koste is gekoppel aan die uitvoering van amptelike statutêre funksies, insluitend bestuursvergaderings, voldoeningsverpligtinge, strategiese beplanning en goedgekeurde internasionale verteenwoordiging.

“Alle uitgawes is volledig gedokumenteer, ouditeerbaar en in ooreenstemming met NTB se jaarlikse begroting,” het Quest gesê.

Sy het verder gesê die goedgekeurde reisbegroting vir die NTB-raad vir die 2025-’26-boekjaar is N$2,3 miljoen en nie N$4 miljoen soos beweer is nie.

Volgens haar sluit dit raadsfooie van N$700 000 en bedryfsondersteuningsdienste van N$1,6 miljoen in. Dit sluit ook reiskoste, venue-, verblyf-, sekretariaat- en logistieke koste vir vergaderings in.

“Net so ontstellend is die ongegronde bewering dat die nuut aangestelde uitvoerende hoof, Sebulon Chicalu, N$1 miljoen se reisuitgawes gedurende die eerste vier maande van sy ampstermyn in sy sak gesteek het. Hierdie bewering is nie net erg oordrewe nie, maar heeltemal vals,” het Quest gesê.

Sy het gesê Chicalu het tussen sy aanstelling in Maart tot op hede vier internasionale reise onderneem, met totale reis- en verblyfkoste van N$158 643.

Quest het gesê dié reise is deur die betrokke owerhede goedgekeur en wettige strategiese doelwitte is gehandhaaf, soos onder meer om Namibië se sigbaarheid in internasionale toeristemarkte te verbeter, vennootskappe en beleggersbelangstelling te verseker en NTB op streek en vastelandplatforms te verteenwoordig in ooreenstemming met sy mandaat.

“Alle gepaardgaande kostes is deursigtig, vooraf goedgekeur en rekenskap kan daarvoor onder NTB se bestuursraamwerk gegee word.

“Dit is duidelik hierdie misleidende verslae spruit voort uit ’n doelbewuste poging deur sekere individue om die werk en integriteit van die NTB-raad en sy uitvoerende gesag in oneer te bring.”

Sy het gesê dat die waninligting openbare vertroue ondermyn, institusionele geloofwaardigheid skade berokken en poog om aandag van die vordering wat gemaak is met die herposisionering van Namibië se toerismesektor af te lei.

“Die NTB veroordeel ten sterkste enige poging om vals inligting teen staatsamptenare wat hul mandate ywerig uitvoer, te gebruik.”

Quest het gesê alle openbare fondse by NTB is onderhewig aan streng beheer, oudits en verantwoordbaarheid.

“Daar is niks om weg te steek nie. Ons verwelkom ondersoeke, maar slegs wanneer dit op feite gebaseer is, nie op waninligting nie.

“Ons nooi lede van die media en die publiek uit om direk met NTB te skakel vir geverifieerde inligting en om te verhoed dat hulle deelneem aan of ongeverifieerde bewerings bevorder wat Namibië se nasionale belange skaad.”

Quest het gesê as ’n instelling wat onder toesig van die toerismeministerie bedryf word en gereguleer word deur die wet op staatsondernemings, die NTB streng finansiële beheermaatreëls en verslagdoeningsprotokolle nakom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer