Napha: Lok toeriste uit ontluikende markte
’n Afname in toeriste-aankomste en korter besoekersverblyf kan Namibië se ekonomie honderde miljoene dollars kos, wat die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) aangespoor het om vir maatreëls te vra wat die land se toerismebedryf versterk, terwyl daar terselfdertyd op ontluikende internasionale markte gekapitaliseer word.
Napha het gesê die land se toerismebedryf bly, ondanks ’n geringe daling in besoekersaankomste verlede jaar, een van die belangrikste pilare wat bewaring, landelike lewensbestaan en ekonomiese ontwikkeling dra.
In reaksie op die jongste vrygestelde statiestiekverslag oor toeriste-aankomste van 2025 het die vereniging gesê die syfers bied ’n gemengde prentjie, met verskeie bemoedigende tendense, asook kommer wat dringende aandag verg.
Die verslag toon dat Namibië 1,217 miljoen besoekers in 2025 verwelkom het teenoor die 1,257 miljoen in 2024 – ’n daling van sowat 3,2%.
Hoewel die totale aankomste gedaal het, het Napha gesê Namibië bly sy aantrekkingskrag as ’n wêreldbestemming vir wild en natuur bewys.
“Om ’n gesonde toerismebedryf te handhaaf, bevoordeel nie net toerisme-operateurs nie, maar ook kommunale bewaringsgebiede, boere, plaaslike gemeenskappe en wildbewaringspogings regoor die land,” het die vereniging gesê.
Onder die verslag se positiewe bevindings is voortgesette groei in verskeie oorsese markte. Die Verenigde State van Amerika het sy posisie as Namibië se tweede grootste oorsese bronmark versterk, met besoekersgetalle wat van 28 686 in 2024 tot 31 090 in 2025 gestyg het.
Rusland het ook sterk groei aangeteken as een Namibië se toptien oorsese markte met 8 727 besoekers, terwyl China ook by die toptien aangesluit het met 9 657 aankomste.
Volgens Napha dui hierdie syfers daarop dat Namibië toenemend toeriste van uiteenlopende internasionale markte lok.
Nasionale parke het ook verhoogde besoek ervaar, met besoekersgetalle wat van 943 408 in 2024 tot 994 780 in 2025 gestyg het. Napha het gesê dit weerspieël volgehoue internasionale belangstelling in Namibië se wild, bewaringsprestasies en natuurlandskappe.
Die vereniging het egter ook verskeie gebiede uitgelig wat aandag verg.
Een bekommernis is die afname in eendagbesoekers, met Namibië wat ongeveer 36 083 minder dagbesoekers as die vorige jaar ontvang het. Napha het voorgestel dat die regering dit oorweeg om verlaagde visumfooie vir eendagbesoekers in te stel, soortgelyk aan die reëling wat tans vir toeriste van passasierskepe beskikbaar is.
Die vereniging glo so ’n maatstaf kan meer dagbesoeke oor die grense aanmoedig, veral in die Zambezistreek, waar baie toeriste Namibië vir dagbesoeke binnekom voordat hulle na die buurlande terugkeer.
MINDER EUROPESE TOERISTE
Nog ’n bekommernis is die afname in aankomste uit Europa. Hoewel Duitsland Namibië se grootste oorsese bronmark gebly het, het aankomste aansienlik van 111 164 besoekers in 2024 tot 80 657 in 2025 gedaal. Soortgelyke dalings is oor verskeie tradisionele Europese markte aangeteken.
Napha het gesê die redes vir die afname is waarskynlik uiteenlopend, maar het beklemtoon dat die verbetering van internasionale lugverbindings en die uitbreiding van roete-opsies noodsaaklik sal wees om Namibië se mededingendheid as ’n langafstandbestemming te handhaaf.
Die verslag dui ook op ’n voortgesette vermindering in die gemiddelde beoogde lengte van verblyf, wat van 14 nagte in 2024 tot 13 nagte in 2025 gedaal het.
Volgens Napha mag die verlies van een enkele dag per besoeker gering lyk, maar die kumulatiewe ekonomiese impak is aansienlik. Op grond van die 1,217 miljoen toeriste-aankomste wat aangeteken is, beraam die vereniging dat selfs ’n konserwatiewe besteding van N$100 per besoeker per dag sou neerkom op ongeveer N$121,7 miljoen in verlore ekonomiese aktiwiteit.
“Die werklike finansiële impak is waarskynlik aansienlik hoër gegewe gemiddelde toeristebestedingspatrone.”
Ten spyte van hierdie uitdagings bly Napha optimisties oor die sektor se langtermynvooruitsigte.
“Namibië lok steeds jaarliks meer as een miljoen besoekers en bly een van Afrika se voorste bestemmings vir wild en natuur.”
Napha het bygevoeg om voort te bou op die positiewe tendense wat in die verslag geïdentifiseer is, terwyl die sektor se uitdagings getakel word, sterker samewerking tussen die regering, toerisme-operateurs, bedryfsverenigings en rolspelers in bewaring sal verg.
Deur groter samewerking en ’n gedeelde visie glo Napha Namibië kan voortgaan om toerisme te laat groei op ’n wyse wat bewaring ondersteun, werksgeleenthede skep en blywende voordele vir landelike gemeenskappe lewer.
“Die verslag dien as ’n herinnering dat toerisme, bewaring en landelike ontwikkeling nou verweef is,” het die vereniging gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie