Namibiese jagluiperds lok meer toeriste vir Indiese park

Ellanie Smit
Die aankoms van Namibiese jagluiperds in Indië het toerisme ’n hupstoot gegee, met besoekersgetalle wat met 19% by die Kuno Nasionale Park (KNP) in die Madhya Pradesh-provinsie in Indië in 2024-’25 gestyg het, in vergelyking met die vorige jaar.

Volgens mediaberigte uit Indië het die park 3 833 toeriste in 2024-’25 aangeteken, teenoor 3 221 in 2023-’24, wat die groeiende wêreldwye belangstelling in die ambisieuse jagluiperd-hervestigingsprojek weerspieël.

Hierdie toename word hoofsaaklik aan die geskiedkundige verskuiwing van agt jagluiperds uit Namibië in September 2022 toegeskryf.

Die hervestiging van die vinnigste katspesie in Indië volg nadat dit meer as sewe dekades gelede in die land as uitgesterf verklaar is. Bewaringsbewustes het die gebeurtenis as ’n mylpaal beskou, nie net vir Indië se wildlewe-erfenis nie, maar ook vir internasionale samewerking in die bewaring van biodiversiteit.

Tussen September 2022 en Februarie 2023 het Indië altesaam 20 Afrika-jagluiperds uit Namibië en Suid-Afrika ontvang.

Vandag is Kuno die tuiste van 10 volwasse jagluiperds en 19 welpies wat op Indiese bodem gebore is. Hul suksesvolle aanteelt het die hoop versterk dat die projek ’n stabiele jagluiperdbevolking in Indië sal verseker.



NUWE TUISTE

Kuno-parkbeamptes het gesê die teenwoordigheid van hierdie jagluiperds het die park in ’n “globale bewaringsuitstalling” omskep.

Toeriste, navorsers en wildliefhebbers van oraloor Indië en die buiteland stroom nou na die park om die jagluiperds in hul nuwe habitat te aanskou. Dit het ’n beduidende hupstoot aan die plaaslike ekonomie gegee, met hotelle, gidse en toerisme-operateurs wat voordeel trek uit die verhoogde voetverkeer, volgens mediaberigte.

Kuno bly oop vir besoekers van Oktober tot Junie en sluit slegs gedurende die moesonseisoen van Julie tot September.

Media in Indië het berig dat besprekings vir die 2025-’26-toeristeseisoen reeds aan die toeneem is, aangevuur deur die bekoring om weer vrylopende jagluiperds in Indië te sien rondloop.



KRITICI

Die jagluiperdprojek is egter nie sonder omstredenheid en kritiek nie.

Verskeie bewaringsbewustes het die inisiatief gekritiseer en aangevoer dat Kuno nie die uitgestrekte oop savannas het wat jagluiperds as habitat nodig het om te floreer nie.

Ander het kommer uitgespreek oor die sterftesyfer, aangesien verskeie jagluiperds wat verskuif is, sedert hul vrylating gevrek het, asook welpies.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer