’n Stywe druk vir ’n Bob Marley-boom
Die reisavontuur van byna twee weke wat deur menigte grensposte, met teerpaaie en grondpaaie, deur blink panne water en rivierlangs op bote sou strek, begin op ‘n rustige Sondag.
Deur my tuisdorp Otavi en die bekende landskap van kinderherinneringe in die Noorde se mieliedriehoek,
Is ons eerste stop by Namibië se “vergete myn”, Abenab, tussen Tsumeb en Grootfontein. Hier het
’n vroulike entrepreneur ’n verwelkomende lodge geskep op die terrein van wat eens as die wêreld se rykste vanadiummyn beskou is.
Die nuuskierige joernalis in my wou langer bly en meer ontdek, maar die oop pad na nuwe herinneringe het geroep. Dit neem ons verby dorpies met kleihutte, troppe beeste, houtkunsvlytstalletjies en makalanipalms, tot by die magtige Okavangorivier met sy poeierwit oewers wat geduldig op besoekers wag.
Die eerste sonsopkoms, wat die hemelruim in sagte pienk skakerings verf, gee die toon aan vir wat elke dag sou volg. Saans verdwyn die bloedrooi son stadig agter rivieroewers en bome, nog meer dramaties ingekleur deur Afrika se stof en die sagte waas van kampvure - ’n
toepaslike afsluiting van nog ’n dag vol ontdekkings.
Op die oewer van die Okavango slaap ons in luuksheid - sagte kussings, ’n ruim bed en selfs ’n
Nespresso-masjien - terwyl die gedruis van die Popa-watervalle naby Divundu, verlig deur die sagte skynsel van ‘n volmaan, ons aan die slaap.
Hierdie meisie, met Afrika se tromme, stof, son en ritme diep in haar are verweef, kan maklik aan só
’n lewe gewoond raak!
Naby Katima Mulilo kyk ons vanuit n kano op die spieëlgladde waters van ’n stil meer wat met die Okavangorivier verbind is, hoe die son stadig verdwyn.
Onder ons roeispane speeldryf een van die merkwaardigste wesens wat ek nog ooit gesien het, - ’n klein,
jellievisagtige en deurskynende organisme wat soos ’n miniatuur-valskerm lyk en wie se hartklop jy sien wanneer dit in jou handpalm lê.
’n Plaaslike inwoner vertel dit is een van die min plekke waar hierdie klein wesens voorkom. Op die punt van van jou vinger kan jy jou verbeel dis ‘n kontaklens. Daarom dat mense wat al geslagte lank langs die rivier woon, hulle “oogvisse” noem.
GRENSE
Uiteindelik was dit tyd vir die eerste van verskeie paspoortstempels. Ons verlaat Namibië deur die
Ngoma-grenspos, gaan Botswana binne en reis per boot na ’n plek waar die luuksheid omsoom word met
seekoeie en olifante en die ikoniese geroep van die visarend as konstante agtergrondmusiek.
’n Watertaxi vervoer ons tussen twee rivieroewers - die een in Namibië en die ander in Botswana - terwyl ons paspoorte al hoe voller word met stempels wat elk die herinnering van nuwe plekke en ontdekkings dra.
In Kasane bly ons op die oewer van die Choberivier, reg langs die Chobe Nasionale Park. Een van
die hoogtepunte van ons reis is ’n vroegoggend-safari na ’n stiller deel van die park, weg van die lang rye voertuie wat dikwels elke waarneming van enige dier kenmerk.
In die stilte, net begelei deur voëlgesang en die bos wat stadig wakker word, groet ons die dag met varsgemaalde koffie en koue hande om warm blikbekers gevou. Buffels, aasvoëls, olifante, ’n hiëna en troppe rooibokke kom stadig uit die oggendmis te voorskyn.
Op die manjifieke Kazungula-brug kyk ons in verwondering af na die plek waar die grense van Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe saamvloei.
Zimbabwe verwelkom ons met Victoria Falls - ’n mooi en besige dorp vol indrukwekkende bome en verblyf wat
wissel van rugsakreisigers tot vyfster-luuksheid. Bo ons sirkel helikopters, die geraas van hul lemme wat
meeding met die dreun van die “rook wat donder” - die magtige Victoria-waterval.
PAPSOPNAT
Om op die rand van die krans te staan en oor die kloof te kyk waar miljoene liters water oor die rotse
stort, slaan my asem weg. En toe is dit ritssweef (zipline) oor die kloof. Ten spyte van my vreeslike hoogtevrees, gly ek van kant tot kant met die waterval regs van my en die reënwoud ver onder my. Die laaste bietjie asem wat ek oor het, is weggeslaan. Te vinnig is dit verby. Met my voete weer veilig op vaste grond, wens ‘n deel van my ek kan omdraai en dit weer doen, al is dit net om vir ‘n paar sekondes langer in die middel van die kloof te kan hang.
Net toe ek dink niks kan dié ervaring oortref nie, tower die Victoria-waterval vanuit Zambië en die nabygeleë Livingstone nóg ’n verrassing op.
Van hierdie kant af voel die waterval nader en selfs meer indrukwekkend. Smal paadjies vleg diep die reënwoud in, af teen steil hellings en tot by rustige poele onder die waterval. Die steil klim terug strek oor kronkelende klippaaie glad van die mos en die konstante sproei van die valle. Elke sintuig word geprikkel. Die geur van nat bas en blare. Die oorverdowende gedreun van die water. Die fyn mis wat ons tot op die vel deurweek. Saam skep dit ’n ervaring wat geen
foto ooit volledig sal kan vasvang nie.
In die Mosi-oa-Tunya Nasionale Park, langs die Zambezirivier, stop ons geduldige gids met ‘n glimag dat ek ‘n Bob Marley-boom - vernoem na sy lang blare wat soos die musikant se ikoniese dreadlocks hang - ‘n drukkie kan gee. My beker is vol. Tot oorlopens toe.
Nog ’n paspoortstempel later is ons terug in Botswana. Ons parkeer ons voertuig veilig onder ‘n reuseboom, klim in ’n Land Rover en ry oor uitgestrekte vloedvlaktes waar die water soms hoog en naby die venster huiwer. Ons
bestemming is ’n tentkamp op stelte, versteek tussen welige groen aan die oewer van ’n meer waar seekoeie, krokodille, spelende en swaaiende apies en spierwit waterlelies die landskap oorheers.
Vir oulaas kyk ons hoe die Afrika-son stadig agter die papirusriete verdwyn en die horison in
diep rooi en oranje kleure verf.
Die volgende oggend met ‘n koue dagbreek en agter op ’n oop safari-voertuig reis ons terug oor die vloedvlaktes na die boom waaronder ons voertuig vir die lang reis huis
toe wag.
Die klanke. Die geure. Die mense.
Ek het ’n Bob Marley-boom omhels. Ek het oor die Victoria-waterval geritssweef. Maar bo alles het
ek weer besef waarom Afrika ’n mens se hart steel. Dis nie net die plekke wat jy besoek nie - dis die oomblikke wat jou bybly lank nadat die paspoort weer in die laai verdwyn het. Hier, in hierdie deel van die wêreld, het ek herinneringe versamel wat vir altyd saam met my sal reis. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie