Duitse en Kanadese owerhede het 'n dringende waarskuwing vir hul burgers uitgereik wat na Namibië reis weens stygende misdaad. Foto ter illustrasie/argief
Duitse en Kanadese owerhede het 'n dringende waarskuwing vir hul burgers uitgereik wat na Namibië reis weens stygende misdaad. Foto ter illustrasie/argief

Misdaad knel toerisme

Francoise Steynberg
Duitsland het ’n dringende reiswaarskuwing teen Namibië en verskeie ander lande uitgereik wat sy burgers waarsku om versigtig te wees weens toenemende veiligheidskwessies en stygende misdaad.

Duitsland, wat die grootste toerismemark vir Namibië is, volg in 2026 knap in die voetspore van Kanada en die Verenigde State van Amerika (VSA), die Verenigde Koninkryk (VK) einde verlede jaar.

Die Namibiese toerismesektor het by monde van die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), Gitta Paetzold, sy kommer oor toenemende uitdagings vir die sektor uitgespreek wat weer op sy voete gekom het ná die Covid-19-pandemie.

“Dit blyk asof daar talle uitdagings vir die Namibiese toerismebedryf voorlê: Duur vliegkaartjies, stygende pryse, klagtes oor diens en infrastruktuur in nasionale parke en nou die hersiening van reiswaarskuwings - die laaste roetine-ding wat lande doen sodra daar voorvalle met toeriste voorkom, maar dit beïnvloed die siening van 'n reisbestemming,” het Paetzold gister aan Republikein gesê.

Hierdie waarskuwings het 'n belangrike reisoorweging vir toeriste geword, veral namate veiligheidsrisiko's in verskeie lande steeds styg. Die situasie is veranderlik en reisigers word aangemoedig om ingelig te bly en die nodige voorsorgmaatreëls te tref terwyl hulle in die lande is.

Volgens die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se toeriste-statistiekverslag van 2024 het 111 164 Duitse toeriste Namibië besoek, wat Duitsland die grootste oorsese bronmark maak, het woordvoerder Vilho Hangula, bevestig. Paetzold sê volgens HAN-statistieke maak die Duitssprekende mark (Duitsland, Oostenryk en Switserland) sowat 36% tot 40% van bedbesettings uit.

WINDHOEK 'N BRANDPUNT

Duitsland se waarskuwing volg weens Namibië se veiligheidsrisiko's en toenemende misdaad. Duitse owerhede meen Namibië se politieke situasie is tans stabiel, maar die land staar 'n toename in misdaad van toeriste se besittings in die gesig, veral in die hoofstad.

“In onlangse maande was daar 'n toename in rooftogte, insluitend gewelddadige aanvalle op reisigers, wat dikwels op toeriste gemik is wat in afgeleë gebiede en kampeerplekke bly. Windhoek het 'n brandpunt vir misdaad geword, met voorvalle wat op Sondae en openbare vakansiedae 'n hoogtepunt bereik wanneer minder mense buite is en rondbeweeg," waarsku Duitse owerhede.

Reisigers het berig dat hulle van lughawens na verblyfplekke gevolg word, waar hul aandag afgelei word en hulle beroof is.

“Daarbenewens het Namibië se meer afgeleë streke, soos afgeleë gebiede in die Noorde en landelike toeriste-aantreklikhede, 'n toename in geweldsmisdade en diefstal gesien. Daar is ook berigte van bedrog, met swendelaars wat niksvermoedende besoekers deur middel van bedrieglike skemas teiken, veral by gewilde toeristebestemmings."

Duitse reisigers word aangeraai om te verhoed dat hulle in afgeleë gebiede loop of waardevolle items onbewaak laat. Sekuriteitsmaatreëls moet 'n topprioriteit wees, veral wanneer hulle in afgesonderde streke reis.

Kanada het weer gewaarsku teen rooftogte, inbrake en motorkapings, met die meeste voorvalle waarby besoekers betrokke is wat in en om Windhoek aangemeld is. Die waarskuwing dui ook op 'n toename in finansiële swendelary wat toeriste teiken, insluitend kredietkaartkloning by sommige hotelle en lodges, sowel as diefstal- en afleidingstaktieke by OTM'e.

Paetzold maan die reiswaarskuwings moet van Namibië se kant af ernstig opgeneem word.

“Ideaal sou wees as instansies soos die owerhede – MEFT en die Namibië Toerismeraad (NTB) – standpunt inneem, want die bekamping van misdaad is 'n nasionale taak, asook die visumregulasies en bilaterale betrekkinge met ander lande.”

Sy sê die private sektor is hard aan die werk om Namibia as 'n unieke, veilige en aantreklike bestemming te bemark.

“Hopelik sit MEFT binnekort hand by deur die beplande nasionale ruimtelike ontwikkelingsmeesterplan vir toerisme om klem te lê op die noodsaaklikheid van 'n ’all of government’-benadering om die regte toestande te skep en die toerismepotensiaal te laat blom,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer