Ministerie krabbel terug oor Sossusvlei
Babelse verwarring het die langnaweek digby Sossusvlei geheers toe selfry-besoekers eers gesê is hul mag nie op hul eie Dooievlei besoek nie, net om later by wyse van ‘n amptelike verklaring van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme te hoor hulle mag dit wél op eie stoom doen.
Die ministerie het hierdie naweek bevestig dat Dooievlei oop is vir selfry-besoekers in 4x4-voertuie, ná verwarring die naweek by Sossusvlei met nuwe toegangsregulasies wat op 1 Mei ingestel is.
In 'n openbare kennisgewing wat deur die uitvoerende direkteur van die toerismeministerie uitgereik is, het Sikongo Haihambo bevestig dat toegang tot Dooievlei beperk is tot toergidse wat by die Namibië Toerismeraad (NTB) geregistreer is en selfry-besoekers in 4x4-voertuie. Besoekers wat verkies om nie self te bestuur nie, kan 'n aangewese pendeldiens gebruik wat deur 'n konsessiehouer bedryf word. Bussen en vragmotors word verbied om die gebied te betree.
Die riglyne wat onmiddellik in werking tree, vervang alle vorige reëlings en sal tot verdere kennisgewing van krag bly.
Die verduideliking volg op ontwrigtings wat by die Sesriem-hek aangemeld is, waar die implementering van die nuwe reëls toegangsprosedures en voertuigbeweging binne die park beïnvloed het. Toeroperateurs het verwys na vertragings, onduidelike instruksies en onderbrekings in reisplanne, met sommige toeriste wat noodgedwonge om hul planne moes verander.
Die aanvanklike wysigings wat sonder breë konsensus van die privaatsektor in werking getree het, beïnvloed toegangsprosedures deur die Sesriem-hek en die beweging van voertuie binne die park.
Die kern van die onmin is die gewysigde regulasies wat die laaste deel van die duine beheer, waar toegang beperk is tot 4x4-voertuie en gereguleerde pendeldienste. Terwyl owerhede volhou dat die maatreëls nodig is om die brose ekosisteem van die Namib-Naukluft Nasionale Park te beskerm, voer verwante rolspelers aan dat die uitrol swak gekommunikeer en inkonsekwent afgedwing is.
Verskeie toeroperateurs het kommer uitgespreek dat die skielike implementering besoekersvertroue en Namibië se reputasie as 'n stresvrye, hoëgehalte-bestemming ondermyn. Ander het gewaarsku dat veral kleiner operateurs sukkel om by die nuwe vereistes aan te pas, wat vrae laat ontstaan oor billikheid en inklusiwiteit in een van die land se winsgewendste toeristebestemmings. Amptenare het egter die kritiek weerlê en sê die regulasies is daarop gemik om groeiende besoekersgetalle te bestuur en die woestynomgewing te beskerm. Hulle het herhaal dat alternatiewe toegangsopsies, insluitend pendeldienste, steeds vir alle besoekers beskikbaar bly.
Die ministerie het in ‘n verklaring beklemtoon dat die situasie gemonitor word en dat aanvanklike kommunikasieprobleme aangespreek is. Rolspelers vra egter steeds vir duideliker leiding en moontlike aanpassings om gladder bedrywighede by een van die land se gewildste toeriste-aantreklikhede te verseker.
In April het die ministerie se verklaring van 'n verbod op selfry-besoekers buite die 2x4-parkeerarea by Sossusvlei wat op 1 Mei 2026 in werking sou tree, tot kommer in Namibië se toerismebedryf gelei. Toeroperateurs het gewaarsku dit is teenstrydig met vorige amtelike versekerings dat die bepalings vir toegang tot Dooievlei dieselfde sou bly.
Die ministerie het teruggekap teen bewerings dat dit die bepalings van sy 2024-konsessie-ooreenkoms verander het.
In reaksie op vrae wat deur die Toer- en Safarivereniging van Namibië (TASA) geopper is, het die ministerie bevestig dat die kontrak wat in Februarie 2024 toegeken is, onveranderd en nie-eksklusief bly.
Destyds het die woordvoerder van die ministerie, Vilho Hangula, beklemtoon dat geen wysigings of omskakelings na die aanvanklike toekenning aangebring is nie.
Volgens die nuwe reëls wat op 1 Mei in werking sou tree, word selfry-besoekers beperk tot die 2x4-parkeerarea by Sossusvlei, met besoekers wat van aangewese pendeldienste gebruik moet maak om Dooievlei te kan besoek.
Volgens die ministerie sal slegs twee kategorieë operateurs toegelaat word om hierdie dienste te lewer: Grow Namibia, wat handel dryf as About Deadvlei Sossusvlei Management, en geregistreerde toergidse wat in diens is van lodges binne en om die Namib-Naukluft Nasionale Park.
Destyds het die ministerie gesê dat ten spyte van die beperking op selfry, die ministerie volhou dat die konsessie nie-eksklusief bly.
Lodges wat in en om die park werksaam is, sal steeds toegelaat word om hul eie kliënte met 4x4-voertuie na die Sossusvlei-parkeerarea te vervoer, in ooreenstemming met die oorspronklike ooreenkoms.
Hangula het verder beklemtoon dat die nuwe maatreëls ooreenstem met die getekende kontrak en nou ten volle geïmplementeer sal word. Die ministerie het ook artikel 17 van die natuurbewaringsordonnansie 4 van 1975 aangehaal, wat die minister die mag gee om te bepaal wie dienste binne beskermde gebiede mag lewer.
Die Toer- en Safarivereniging van Namibië (TASA) het die ministerie egter sterk oor die nuwe regulasies gekritiseer en gesê dit kom neer op ‘n eksklusiewe reëling vir ‘n pendeldiens. Tasa het ook ‘n formele brief aan die kantoor van die ombudsman asook die Teenkorrupsiekommisie (ACC) vir onmiddellike duidelikheid en ingryping gestuur. Beide die ombudsman en die ACC het ontvangs van die voorleggings erken. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie