Klassieke motors rits deur Namibië
Stofpaaie, modderpaaie ná die reën, asemrowende woestyntonele en klassieke motors wat tot hul uiterste gedryf en beproef word.
Dít is die ervaring van deelnemers aan die “Trans-Afrika-veldwedren II” se reis deur Namibië in veteraanvoertuie.
Ná stilhouplekke by die Visrivier-canyon, Aus, Sossusvlei en Swakopmund het die roete die avonturiers verder op grondpaaie na die Kunenestreek en die Etosha Nasionale Park en Otjiwarongo se krokodilplaas gelei.
Die avontuurwedren van 29 dae strek oor sowat 7 800 kilometer deur sewe lande in Suider-Afrika – van Kaapstad via Namibië en die Victoriawaterval tot by Durban in Suid-Afrika.
Die meeste voertuie is klassieke motors wat voor 1980 gebou is. Volgens die organiseerder van Destination Rally neem 22 spanne deel.
Benewens die uitdagings van die lang woestynskofte, die oorsteek by verskeie grensposte en tegniese probleme, het die robkolonies, die groot verskeidenheid wild en interessante mense langs die pad hul avontuur verryk.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie